’n Beseerde spanmaat het die deur vir CJ Velleman oopgeswaai om sy Curriebeker-debuut vir Griekwas te maak, maar vir dié boorling van die Oos-Kaap is daar ook die kwessie van ’n kontrak ter sprake.

CJ Velleman kry Vrydag in Mbombela die geleentheid om aan Griekwas se afrigter, Scott Mathie, te wys wat in hom steek. Foto: Gallo Images
Velleman (25) sal die nr. 6-trui Vrydag teen die Pumas in Mbombela dra – die enigste verandering aan die beginspan wat die afgelope naweek teen die Leeus in Kimberley verloor het. Hy vervang Gideon van der Merwe, wat teen die Johannesburgers ’n stamp teen die kop gekry het.
Velleman, wat voorheen vir die Southern Kings gespeel het, het in September ’n heenkome by die Poubloues gevind nadat die Oos-Kaapse franchise gelikwideer is.
Hy is egter net tot aan die einde van die Curriebeker, dit wil sê Januarie, by Griekwas gekontrakteer.
Nou kry Velleman, ’n baljagter wat hoog aangeslaan word, die geleentheid om Scott Mathie, afrigter van die Noord-Kapenaars, opnuut aan sy deugde te herinner.
Kom Velleman, wat maar nog min speelkans gekry het sedert hy ’n Poubloue geword het met ’n spoggerige vertoning vorendag, kan hy Mathie as’t ware verplig om hom ’n kontrakverlenging aan te bied.

Zak Burger sit teen die Leeus af op ’n lopie, met ’n Johannesburger wat hom probeer plattrek. Foto: Gallo Images
“Ons sal beslis vir Gideon mis, wat die wedstryd weens harsingskudding misloop. Hy is ’n goeie speler, maar CJ is iemand wat ander vaardighede bied,” sê Mathie.
“Hy (Velleman) speel baie meer na die bal en hy kan baie effektief by die afbreekpunte wees om balbesit te kry.”
Dit is egter nie net Velleman wat moet rekenskap van homself gee nie, die segelose Griekwas moet ook aan hulself en ondersteuners bewys dat daar nog perdekrag onder die enjinkap is.
Teen die Leeus was een van die redes waarom Griekwas vinnig met 17-3 voorgeloop het, omdat hulle vinnige besit gekry en die bal deur die hande laat gaan het. Kry die Poubloues se kaptein en skrumskakel, Zak Burger, die bal vinnig teen die Laevelders, kan daar perde wees.
“My boodskap aan die spelers is om aan te hou om te verbeter soos wat hulle in die laaste paar weke gedoen het. In die afgelope maand het ons in elke wedstryd geleidelike verbetering getoon,” sê Mathie.
“Ons het baie van die topspanne onder groot druk geplaas, so dit is belangrik dat ons hierdie naweek teen die Pumas aanhou om te verbeter.”
Griekwas: James Verity-Amm, Daniel Kasende, Berton
Klaasen, Johnathan Francke, Eduan Keyter, Tinus de Beer, Zak Burger (k),
Johan Momsen, Stefan Willemse, CJ Velleman, Cameron Lindsay, Adré
Smith, Ewald van der Westhuizen, HJ Luus, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS
(uit): Monde Hadebe, Andrew Beerwinkel, John-Roy Jenkinson, Mzwanele
Zito, Carl Els, Theo Maree, André Swarts, Enver Brandt, Zandré Jordaan,
Ewan Coetzee, Ashlon Davids.