Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Venter terug op veld ná 2de kankerstryd

Daar is die sêding: Jy leef net een keer, so maak die beste daarvan.

Ivan Venter, heelagter van die Pretoriase klubspan Harlequins, het ’n heel ander uitkyk.

“Daardie gesegde is nie heeltemal reg nie. Jy gaan net een keer dood, maar leef elke dag.”

Dié 30-jarige oudleerling van die Hoërskool Garsfontein het Saterdag ná ’n lang kankerstryd vir die eerste keer in sowat drie jaar weer op ’n rugbyveld uitgedraf.

Ivan Venter verlede Saterdag in Pretoria op die aanval vir Harlequins teen Pirates. Foto: Actionpix | Frans Lombard

Die teëspoed het hom in 2015 getref toe hy vir Pretoria-polisie (die Bobbies) in die nasionale Gold Cup-klubreeks gespeel het.

Hy was in die seisoene vantevore ’n lid van die Bulle-akademie en die Ligbloues se sewesgroep. In 2013 het hy ook Connacht se sewesspan in Ierland verteenwoordig.

Dit was op 28 Februarie 2015 toe die Bobbies in Bloemfontein teen die Crusaders gespeel het, wat sy beproewing begin het.

“Ek het in die aanloop gereeld met maagvirusse en naarheid gesukkel, maar was nie te bekommerd daaroor nie. Dit was ook so daardie dag voor die wedstryd, maar ek het besluit om te speel,” vertel hy.

“Ek is in die wedstryd in ’n stadium geduik en dit het gevoel of iets in my maag bars. Ek het toe besef iets is nie reg nie, maar ek was nie daarop voorbereid om in my 20’s te hoor ek het kanker nie.”

Venter is dae later meegedeel hy het ’n enorme gewas in sy kolon.

“Ek het in ontkenning geleef totdat ek begin chemoterapie kry het. Dít, saam met die mediese voorspelling dat ek ’n 50/50-kans het om nog vyf jaar te leef, het my hard getref.”

Hy was in remissie tot in 2018 toe longkanker by hom gediagnoseer is.

Venter het in die proses die onderste lob van sy linkerlong verloor.

“Ek was daarna baie onfiks en het 5 m geloop en moes dan rus.”

Opgee is egter nie in Venter se woordeskat nie en van sy rugbystewels wegpak was daar ook nie van sprake nie.

“Ek was maar lekker op my senuwees voor Saterdag se wedstryd, veral omdat ek een van die senior ouens in die span is,” sê hy. “Dit het egter goed gegaan en ek is baie dankbaar daarvoor.”

Vandag leef ek met die besef dat niks in my hande is nie en ek beskou elke dag as ’n nuwe kans om te leef.

Venter kom al ’n pad saam met dié geskiedkundige klub in die Jakarandastad.

“Ek was seker so vyf toe my broer by Quins bulletjierugby gespeel het. Ek het ook kort voor lank begin speel en onthou dat ek op agt as die Speler van Jaar aangewys is. (Wyle) Joost van der Westhuizen het nog daardie dag die trofee aan my oorhandig.”

Gert Mulder, Harlequins se direkteur van rugby en hoofafrigter, sê om Venter in die span te hê, gee hulle bykomende motivering.

“Afgesien daarvan dat hy ’n goeie rugbyspeler is, is sy storie ’n inspirasie vir sy spanmaats. Hy is ’n groot bate en ’n wonderlike spanman.”

Venter, ’n mediese verteenwoordiger, sê sy kankerstryd het hom sielkundig baie sterker gemaak.

“My uitkyk in die lewe het heeltemal verander. Ek het nadat ek vir die eerste keer gediagnoseer is, maar net aangegaan asof niks fout was nie. Maar jy moet dit trompop loop en aanvat,” sê hy.

“Vandag leef ek met die besef dat niks in my hande is nie en ek beskou elke dag as ’n nuwe kans om te leef.”

Meer oor:  Klubrugby  |  Harlequins  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.