Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Verenig agter die Bokke, vra oud-kaptein

Mandisa Williams, voormalige kaptein van die Springbok-vrouespan, sê ná hul verowering van die Rugbykampioenskap behoort die Bokke hul eerste Wêreldbeker (WB)-wedstryd teen Nieu-Seeland met hope selfvertroue binne te gaan.

“Ek dink die Rugbykampioenskapstitel was belangrik in die jaar dat die WB-rugbytoernooi gespeel word. Ons het iets gewen en weet hoe dit smaak,” sê sy.

Mandisa Williams, voormalige kaptein van die Springbok-vrouerugbyspan. Foto: Gallo Images

“Ja, ek weet ons het jong spelers in S’bu Nkosi, Cheslin Kolbe en Herschel Jantjies, maar ek is opgewonde om te sien hoe hulle voluit vir ’n oorwinning gaan in ons eerste wedstryd (volgende Saterdag in Jokohama, Japan).

Williams (34), ’n boorling van Jongalanga buite Oos-Londen in die Oos-Kaap, was ook die Springbok-sewesvrouespan se kaptein in die destydse Internasionale Rugbyraad – deesdae Wêreldrugby – se eerste sewesreeks in 2012. Dié nommer agt het in 2016 haar rugbystewels opgehang.

“Die Springbokke het Suid-Afrika gewys hulle kan byhou by die wêreldkampioen, ons het hulle (die All Blacks) en die res van die wêreld gewys waartoe ons in staat is.”

Sy sê die Bok-breier, Rassie Erasmus, wat in ’n stadium ook haar afrigter was, is beslis die regte man vir die pos.

“Waarmee hy baie goed is, is om mense te ontleed. Hy was met sy eerste Rugbykampioenskap nog maar ietwat skrikkerig, maar ons het presies verstaan in watter rigting hy die spelers en rugby in Suid-Afrika wou lei,” sê Williams.

“Met die mengsel van senior en jong spelers in sekere toetse en die groter aanwending van senior spelers in groter toetse, is dit duidelik hoe hy hierdie span vorentoe neem.”

Sy is ’n voorstander daarvan dat die beste speler in sy posisie vir die Springbokke gekies word, ongeag kleur.

Sy is daarom bly dat Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, onlangs gesê het dat daar geen voorskrifte aan Erasmus gaan wees oor spankeuses vir die WB-toernooi nie.

“Wie ook al na vore tree in ’n posisie, ongeag sy kleur, moet gekies word. Ek glo sterk daarin. Dit maak nie saak in watter posisie jy speel nie, solank jy jou kant bring. As jy goed vaar, moet jy die geleentheid kry, kleur moet dit nie bepaal nie.”

Solank die Springbokke in die eindstryd speel, sal sy gelukkig wees.

“Ons moet eenvoudig daar (in die eindstryd) wees. Ons het ’n baie goeie kans en moet dit gebruik,” sê Williams.

“Siya Kolisi, Handré Pollard, Duane Vermeulen, Cheslin Kolbe, Damian de Allende en die res van die manne, asseblief, bring die trofee huis toe. Aan die ondersteuners wil ek net sê: Bly positief en ondersteun die Springbokke onvoorwaardelik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.