Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Puntestand? Blou Bulle wou baljaar

Maak nie saak wat die Curriebeker-puntestand was nie, die Blou Bulle wou Saterdagaand op Loftus Versfeld baljaar en in die proses agt drieë teen die Haaie gedruk het.

Nét om te wys hoe goed die span kan wees.

Het hom! Manie Libbok, losskakel van die Blou Bulle, vier Saterdag sy drie teen die Haaie op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Ná 30 minute was die Bulle goed op koers met ’n voorsprong van 21-13 nadat hulle al drie keer in die Durbaniete se doelgebied gaan draai het.

Toe, in die 37ste minuut, is die wind uit die tuisspan se seile geruk met die senter Johnny Kotze wat in ’n rooikaart vasgekyk het vir ’n gevaarlike hoogvat op die Haaie-vleuel Kobus van Wyk.

“Dit is nou die laaste twee wedstryde dat dit gebeur en dit is teleurstellend. Dit (die beslissing) was taai op Johnny, maar dit was om die nek, só dit is ’n rooikaart,” het Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, gesê.

Dit gebeur al meer dat ’n enkele oortreding soos Kotze s’n grotendeels die uitslag van ’n wedstryd bepaal, soos die All Blacks onlangs met Scott Barrett se rooikaart ervaar het.

Is sulke eensydige kragmetings wat rugbyliefhebbers wil sien?

Nietemin, die Haaie was daarna ten volle in beheer en het vinnig die telbord na 41-21 laat aanrol.

Sorgelose hardlooprugby het toe ewe skielik skadebeheer vir die Bulle geword en die Ligbloues het goed gedoen om uiteindelik met 40-48 te verloor.

Human het agterna sy spelers geloof vir hulle karakter in die tweede helfte.

Ongelukkig wen karakter alleen nie wedstryde nie en die nederlaag beteken die Bulle was die seisoen segeloos op Loftus in die Curriebeker-reeks.

Human het op sy span se mediakonferensie gesê hulle sal in die afseisoen hard moet werk aan die swak dissipline.

Die Bulle-breier sal na die onverwagse misoes bekommerd wees oor wat 2020 se Superreeks inhou.

Die span sal dan sonder Springbokke soos Jesse Kriel, Handré Pollard, Duane Vermeulen, Lood de Jager, RG Snyman en Schalk Brits wees.

Afgesien van een of twee aanwinste en Bokke soos Warrick Gelant en Trevor Nyakane, wat steeds hulle rugby in Pretoria speel, het die Bulle Superrugby-span as’t ware die afgelope paar weke gestalte gekry.

’n Plek in die eindstryd sou die span ’n goeie skoot selfvertroue gegee het, maar pleks daarvan was die Bulle in ’n verbete stryd om nie laaste te eindig op die puntelys nie.

En so is die dae wat die Curriebeker gereeld staanplek op Loftus gehad het, ’n verlangse herinnering vir Bulle-ondersteuners.

Meer oor:  Curriebeker-Reeks  |  Haaie  |  Blou Bulle  |  Loftus Versfeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.