Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Verlore seun terug in WP se nr. 10-trui

Tim Swiel gaan waarskynlik as die Westelike Provinsie se losskakel opdraf in ’n agterlyn met talle veranderinge vir Saterdag se Curriebeker-rugbywedstryd teen die Leeus op Ellispark in Johannesburg.

Gaan Tim Swiel se balverspreiding na wens wees vir die Westelike Provinsie in Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Leeus op Ellispark? Foto: Gallo Images

John Dobson, afrigter van die WP, maak Woensdag eers sy span bekend, maar daar is betroubaar verneem dat Swiel die nr.10-trui sal dra omdat Damian Willemse heelagter toe geskuif gaan word in die plek van die beseerde Warrick Gelant.

Swiel (27) het hom vroeër vanjaar weer aangesluit by die WP, die provinsie waar hy as ’n junior speler sy opgang gemaak het. Hy het in 2013 vir die Streeptruie gespeel en destyds die omstrede besluit geneem om hom nie vir die Junior Springbokke beskikbaar te stel nie. Hy het ’n Britse paspoort en sou hom tot Suid-Afrika verbind het as hy toe op o.20-vlak die Groen-en-goud gedra het.

Swiel het in 2014 by die Haaie ’n draai gemaak voordat hy na Engeland verhuis het. Daar het hy eers vir Harlequins en toe vir die Newcastle Falcons gespeel.

’n Sameloop van omstandighede, eerder as die WP se belangstelling, het hom terug in die Kaap laat beland. Sy pa, Greg, is in Februarie skielik dood.

Swiel is in die Stormers se Superrugby Unlocked-veldtog en die afgelope naweek se Curriebeker-wedstryd teen die Blou Bulle as ’n plaasvervanger ingespan.

Tim Swiel teken ’n drie aan vir die Newcastle Falcons vroeër vanjaar. Foto: Getty Images

Selfs as Gelant nie ’n besering opgedoen het nie, sou Dobson dit dalk in elk geval oorweeg het om Swiel in die beginspan te kies. Of dit die WP gaan versterk, sal net die tyd leer. Swiel het nog nie genoeg gespeel om bo alle twyfel ’n oordeel te kan vel nie.

Daar kan dalk ook van Swiel verwag word om die stelskopwerk te behartig. Willemse verbrou vanjaar soms maklike skoppe pale toe – iets wat bygedra het tot die WP se naelskraapse nederlaag van 20-22 teen die Bulle die afgelope naweek.

Godlen Masimla kan dalk ook ’n kans kry om sy slag op skrumskakel te wys in die plek van die Springbok Herschel Jantjies.

Dobson het verlede week ook al geskimp dat daar ’n verandering in die middelveld kan wees. Ruhan Nel, wat sy terugkeer van ’n besering in die Unlocked-wedstryd teen Griekwas op vleuel gemaak het in plek van die beseerde Edwill van der Merwe, word as die voorste buitesenter in die Kaap gereken.

Nel se insluiting kan straks teweeg bring dat Dan du Plessis binnesenter toe skuif en Rikus Pretorius afskuif plaasvervangersbank toe.

Een van die groot vrae is die impak wat ’n nuwe skakelpaar en heelagter op die WP se taktiese skopwerk sal hê. Die Streeptruie het taamlik bedrewe daarmee geraak om vir veldgebied te speel. In daardie opsig sal Gelant baie gemis word.

As daar in nat weer gespeel word, soos waarskynlik die geval gaan wees, sal goeie skopwerk van agter die oond selfs belangriker as gewoonlik wees.

Donderstorms word Saterdag in Johannesburg verwag.

Meer oor:  Tim Swiel  |  Westelike Provinsie  |  John Dobson  |  Wp  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.