Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Verslag: Nuwe wêreldbedeling kom in rugby
Wereldrugby
Wêreldrugby, die sport se globale beheerliggaam.

Wêreldrugby kan teen 2025 ’n wêreldkalender hê en die oorgang van die bestaande Noord/Suid-bedeling na ’n nuwe orde, sal net so omvangryk wees soos in 1995 toe die beroepsera ingelui is.

Dít is die voorspelling van die internasionale rugbyagentskap Esportif in sy verslag, “International Rugby in Focus, 2020”.

In dié verslag word gekyk na die voorste agt rugbylande se finansiële stand (inkomste en bedryfsprestasie), toeskouerbywoning, borge, kompetisies en verskeie ander brandpunte.

Die huidige skeiding tussen die Noordelike en Suidelike Halfrond sal “byna vir seker” vervang word deur ’n nuwe bedeling wat op grond van tydsones bepaal kan word.

Daar word aangevoer die huidige skeiding tussen die Noordelike en Suidelike Halfrond sal “byna vir seker” vervang word deur ’n nuwe bedeling wat op grond van tydsones bepaal kan word.

Esportif wys daarop dat hy die ontleding gedoen het voordat die Covid-19-pandemie die sport wêreldwyd ontwrig het.

Dit is net Suid-Afrika, Engeland, Skotland en Ierland wat in 2018/’19 ’n hoër inkomste as die vorige boekjaar (2017/’18) gehad het.

Die Engelse Rugbyunie (RFU) is verreweg die beste daaraan toe.

In die 2018/’19-jaar het die RFU se inkomste £213,2 miljoen (sowat R4,7 miljard) beloop – ’n stewige styging van 23,7% (teenoor 2017/’18).

Twickenham is ’n goudmyn vir die Engelse Rugbyunie (RFU). Foto: Getty Images

Twickenham, die Rose se hoofkwartier, is ’n goudmyn met dié stadion wat in 2019 altesame 85% van die RFU se inkomste geskep het.

Die stadion se oospaviljoen is in 2018 herontwikkel om vir duisende meer ondersteuners voorsiening te maak.

Hoewel die Nieu-Seeland Rugbyunie (NSRU) se inkomste met 26,3% gedaal het, is hy tweede op die lys met ’n inkomste van £99,7 miljoen (R2,2 miljard).

Die skerp daling word toegeskryf aan die beduidende inkomste wat die toer van die Britse en Ierse Leeus in 2017 gelewer het.

Suid-Afrika is sesde op die lys met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se inkomste van £72,7 miljoen (3,9% hoër as die £70 miljoen die vorige jaar).

Daar word in die verslag melding gemaak dat Suid-Afrika die enigste rugbyland in die Suidelike Halfrond is wat ’n groter inkomste gehad het, te danke aan nuwe borgskappe en Pro14-uitsaairegte.

Saru was ook een van vyf rugbylande wat ’n bedryfswins getoon het.

Rassie Erasmus, die Springbokke se seëvierende Wêreldbeker-afrigter, word geloof vir onder meer die nuwe kontrakteringsmodel wat hy gevestig het.

Ook interessant is Suid-Afrikaanse rugby se “sosialemedia-teenwoordigheid”, wat met 42,4% die hoogte ingeskiet het van Januarie 2018 tot 2020.

Siya Kolisi, kaptein van die Springbokke, was ’n groot sosialemedia-trekpleister gedurende verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan. Foto: Getty Images

Esportif sê dit is sonder twyfel te danke aan die Bokke se WB-sukses.

Siya Kolisi, die Bok-kaptein, se onderhoud ná die eindstryd is 2,6 miljoen keer op Twitter na gekyk.

“Dit benadruk die omvang van die span se merkwaardige storie wêreldwyd,” lui die verslag.

Rugby Australië (RA) se benarde geldsake word duidelik geskets.

Die Aussies se inkomste in sy 2018-geldjaar was 20,2% laer (£69,2 miljoen) as in 2017.

RA het egter, danksy sy Superrugby-franchises wat met ’n span verminder is (die Western Force), steeds ’n geringe bedryfswins bewerkstellig.

Daar word egter gewaarsku dat kommersiële en uitsaai-onderhandelings gunstig sal moet verloop as RA finansieel volhoubaar gaan bly.

Frankryk is min of meer in dieselfde bootjie. Die Hane se inkomste het in 2018/’19 met £7 miljoen gekrimp – ’n daling van 7%.

Volgens Esportif moet dit vir die Franse rugbybase kommerwekkend wees dat inkomste uit tuistoetse in Parys met byna 30% gedaal het in 2019.

Volgens Esportif moet dit vir die Franse rugbybase kommerwekkend wees dat inkomste uit tuistoetse in Parys met byna 30% gedaal het in 2019.

“Frankryk het 61 debutante gehad die laaste vier seisoene (die meeste van die agt rugbylande in die verslag) onder verskeie ongevestigde afrigtingspanne.

“Weens die land se o.20-span, wat die Junior WB-toernooi agtereenvolgens gewen het, sal daar vorentoe nog nuwelinge ingespan word.

“Dit is egter nodig dat daar groter stabiliteit in spankeuses moet wees," is Esportif se kommentaar.

Skotland se inkomste het met 6,7% toegeneem in 2018/’19 (£61,1 miljoen) en Ierland s’n met 2,1% (£77,5 miljoen).

Dit kom as ’n verrassing dat Wallis, ondanks sy welslae in 2018 en 2019, ’n daling van 6,7% in inkomste ervaar het.

Steeds, as jy in ag neem dat Wallis die kleinste bevolking en groep beroepspelers het om uit te kies, is die Drake se inkomste van £90,5 miljoen nie te versmaai nie.

Meer oor:  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Springbokke  |  Wereldrugby  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.