Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Verster groet Vrystaat-rugby ná 21 jaar

Die einde van ’n era het vandeesweek by die Vrystaat Rugbyunie aangebreek met die uittrede van een van sy langsdienende direksielede, prof. Basie Verster.

Verster (71) is die ouer broer van Harold, uitvoerende hoof van die Vrystaat Cheetahs.

Die unie het vroeër dié week tydens die algemene jaarvergadering hulde aan Basie gebring.

Prof. Basie Verster. Foto: Verskaf

Hy het spesiale erkenning ontvang vir sy lojale diens en jare lange betrokkenheid by Vrystaat-rugby. Hy is ook as lewenslange lid van die unie benoem.

Verster, gebore Jacobus Johannes Petrus, was vanaf 1998 ’n direkteur van die Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk. en het as sportadministrateur ook op verskeie rade gedien. Hy was ’n raadslid van die Vrystaatse Rugbyunie (1991-2001); voorsitter van die UV-rugbyklub (1991-2001); ere-president van Shimlas; lid van die VRU en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se ontwikkelingskomitee (1996) en stigter van die Rugga-projek vir kinders van alle gemeenskappe in 1993.

Hy was ook die afrigter van die Irawas, Shimlas (1984-1990) en Vrystaatse A- én Ontwikkelingspanne (1986-1987). Hy het vir die Vrystaat se senior span (1969 tot 1977) op flank en agtsteman uitgedraf en het in 1972 ook die SA o.24-span (Gaselle) verteenwoordig.

Verster het reeds in 1968 as kaptein van die Vrystaatse o.21-span uitgeblink en het in 1972 saam met die Suid-Afrikaanse Gaselle in Argentinië getoer, waar hy in tien van die 13 wedstryde gespeel het.

Die akademiese en beroepswêreld het teen die einde gewen en Verster – óf prof. Basie soos hy onder sy duisende studente in bourekenkunde oor meer as drie dekades aan die Universiteit van die Vrystaat bekend gestaan het, word as ’n wêreldleier op sy gebied beskou.

Sy 25 drieë in 44 wedstryde vir die Vrystaat het getuig van sy balvaardighede én flair.

Volgens Frikkie van Rensburg, ’n statistikus en oud-sportredakteur van Volksblad, was ’n Basie Verster op volle vaart met die bal in die hand ’n belewenis.

Dié Verster is baie beskeie en hou nie daarvan om in die kollig te wees of om geloof te word nie.

Sy deernis vir sy medemens is een van sy groot deugde. Hy het die “Projek Rugga” saam met Dick Jansen, gewese ontwikkelingsbeampte van die unie, vir jong spelers begin en Saterdae het hulle dié mannetjies afgerig. Van daardie spelers het later groot hoogtes bereik.

Hy is ’n medestigter van die nuwe Crusader-klub in Heidedal en het ook Warriors se embleem ontwerp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.