Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Verster optimisties oor toekoms

“Ons is vol vertroue dat die Cheetahs deel sal wees van ’n toekomstige bedeling, ongeag van wat die nuwe Pro14-struktuur gaan wees.”

Ruan Pienaar, kaptein van die Cheetahs, laat die bal loop in ’n Pro14-wedstryd voordat dié reeks weens die Covid-19-pandemie opgeskort is. Foto: Gallo Images

So het Harold Verster, uitvoerende hoof van Vrystaat Cheetahs (Edms.) Bpk., gesê in reaksie op ’n gerug dat die Cheetahs en Southern Kings uit dié reeks geboender kan word as Suid-Afrika se vier Superrugby-franchises Sanzaar die rug sou toekeer en hulle by ’n vergrote Pro-reeks sou aansluit.

“Die Cheetahs het baanbrekerswerk gedoen met hul deelname aan dié kompetisie en ’n stewige ondersteuningsbasis opgebou sedert hulle in 2018 deel geword het van die kompetisie.

“In hul eerste Pro14-seisoen het die Cheetahs in die kwarteindronde gespeel,” het Verster gesê.

Die span se vertonings in die kompetisie het gewys dat hy met Europa se bestes kan saamgesels.

Hy sê voordat die Covid-19-pandemie ’n skielike einde aan die huidige seisoen se kompetisie gemaak het, het die Cheetahs ’n goeie kans gehad om weer tot die uitspeelrondes deur te dring.

Die Cheetahs het die seisoen hul eerste drie wedstryde tuis gewen en ses van die agt wedstryde wat voorgelê het, sou tuis, in die Toyota-stadion in Bloemfontein, beslis gewees het.

“Die span se vertonings in die kompetisie het gewys dat hy met Europa se bestes kan saamgesels. Die Vrystaat-Cheetahs is nie net die Curriebeker-kampioen nie, maar het die Curriebeker vier keer sedert 2005 gewen en die beker ook in 2006 gedeel. Sy hoofborg, Toyota, het die afgelope paar jaar miljoene rande in Vrystaat- en Suid-Afrikaanse rugby geploeg.”

Verster sê voorts die Vrystaat en die Cheetahs se bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby sedert die unie 125 jaar gelede gestig is, is verstommend. Hy sê hulle dié unie lewer met reëlmaat rugbyspelers vir die res van die land op en dat die Cheetahs deur die jare bekend geword vir hul aanvallende, sprankelrugby.

Daar is die afgelope naweek in Rapport onder meer bespiegel dat – sou die organiseerders besluit om die reeks tot 18 spanne uit te brei – die Cheetahs en Kings deel van die reeks sal bly, maar as daar besluit word om dit tot slegs 16 te beperk en die SA Superspanne (Leeus, Haaie, Stormers en Bulle) by die reeks betrek word, dit neusie verby vir die Cheetahs en Kings is.

Soos sake staan, word Suid-Afrikaanse beroepspanne nog hoegenaamd nie toegelaat om in spanverband te oefen as gevolg van die Covid-19-pandemie nie en die Curriebeker-reeks, wat op 1 Augustus sou afskop, is gevolglik reeds uitgestel.

Oor die begindatum van die nuwe Pro14-seisoen is daar ook nog geen duidelikheid nie. Indien die twee reekse weer oorvleuel soos in die verlede, sal dit ’n groot knou vir die Cheetahs wees.

Talle spelers het intussen kontrakte met die Cheetahs en Kings gesluit in die hoop om hul staal in die Pro14-reeks te toon en sodoende die nuwe Bok-breier, Jacques Nienaber, te beïndruk.

Al die top-afrigters in Suid-Afrika is van die Vrystaat af of is hier ontwikkel.

Hoewel Verster optimisties is oor die toekoms, sal dit te verstane wees as dié spelers onrustig is oor die gerugte. Die onsekerheid wat vanweë die koronavirus-krisis tans in wêreldrugby heers, bring mee dat dit moeilik is om te voorspel wat op kort tot medium termyn gaan gebeur.

Verster hoop egter die Vrystaat se belangrike bydrae tot die spel in die land word in ag geneem wanneer belangrike besluite oor kompetisiestrukture vorentoe geneem word.

“Al die top-afrigters in Suid-Afrika is van die Vrystaat af of is hier ontwikkel; Rassie Erasmus (SA Rugby se direkteur van rugby), Nienaber, Neil Powell (Blitsbok-hoofafrigter), Daan Human (Springbok-skrumafrigter), Brendan Venter (voorheen ’n afrigter by Saracens, die Haaie en ook ’n Springbok-konsultant) en Franco Smith (voormalige Springbok-hulpafrigter en tans hoofafrigter van Italië).

“Die voormalige SA o.21-hoofafrigter Dawie Theron het ook in Bloemfontein skoolgegaan en het sy Springbok-kleure as ’n Vrystater verwerf.

“Selfs Jaco Peyper, Suid-Afrika se voorste skeidsregter, het op Grey-kollege skoolgegaan. Daarbenewens het die Vrystaat 85 Springbokke en sewe vroue-Springbokke opgelewer.

“Ons kan nie wag vir die nuwe Pro14-seisoen nie,” sê Verster.

Meer oor:  Harold Verster  |  Rugby  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.