Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetah vind tuiste in Rusland

Die flank Stephan Malan het in 2018 ’n droomjaar beleef en vinnig opgang by die Cheetahs gemaak, maar daar was aan die einde van daardie seisoen helaas nie vir hom ’n kontrak as beloning nie.

Stephan Malan in volle vaart vir die Vrystaat-Cheetahs in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Goue Leeus in Bloemfontein in 2018. Foto: Gallo Images

Dít het die 25-jarige Malan, met die bynaam Chabal (vernoem na die vurige Franse losvoorspeler Sebastien Chabal), nie in sak en as laat sit nie.

Die Pretorianer het met dié terugslag vrede gemaak en intussen ’n tuiste in Rusland by die Kazan-rugbyklub gevind.

Hy laat weet uit Rusland toe die deur by die Vrystaat vir hom toegeklap het, het ’n ander een oopgegaan, oorsee.

Voordat hy by Kazan aangesluit het, het hy ook ’n ruk vir die Italiaanse klub Lazio gespeel.

My tyd by die Cheetahs was maar ’n wipwaentjie-rit – in my persoonlike lewe en op die veld.

Hy en sy spanmaats in Rusland het verlede Maandag weer begin oefen en voorlopig is hul eerste wedstryd ná die inperking weens die Covid-19-pandemie vir 19 Junie geskeduleer.

Hy sê hy verruil sy tyd in Bloemfontein vir niks nie en hoewel hy teleurgesteld was toe sy kontrak nie hernieu is nie, het hy dadelik nuwe doelwitte vir homself gestel.

“Die dag toe my en die Cheetahs se paaie skei, het ek reeds oorsee begin kyk. Ek het in my hart gevoel dit is die regte ding en ek weet alles gebeur vir ’n rede. My tyd by die Cheetahs was maar ’n wipwaentjie-rit – in my persoonlike lewe en op die veld.

Coach Daan Human (destyds die Cheetahs se skrumafrigter) was ’n lig in ’n donker tonnel vir my gedurende daardie tyd in my lewe. Hy het my gehelp om my voete te vind as speler en my weer in myself laat glo toe ek nie wou nie.

“Ek is hom ewig dankbaar en bly vir wat hy in my lewe beteken het,” sê Malan.

Stephan Malan en van sy spanmaats ná Dinsdag se oefening. Van links is Günther Janse van Vuuren, Ivan Sysoev, Gihard Visagie, Vitali Vazhev, Stephan de Wit (sittend), Malan, Stephan Greeff en Dimitri Goryachev.

Hy het intussen lief geraak vir Rusland. Dis ook waar hy die eerste keer in sy lewe sneeu gesien het en toe boonop vir vier maande daarmee moes saamleef.

“Die taal en kultuur is maar ’n aanpassing, maar dit is iets wat ek baie graag wil bemeester. Ons geriewe hier is van hoogstaande gehalte. Die stad Kazan self is sportmal, so ek is baie geseënd om hier te kan wees – daarby saam met nog agt Suid-Afrikaanse spelers, waaronder my gewese Cheetah-spanmaat Günther Janse van Vuuren. Dan is my jare lange vriend Stephan Greeff ook by die klub,” vertel hy.

Hy sê omdat daar so baie Suid-Afrikaners by hom in Kazan is, vergeet hy dat hy duisende kilometer weg van die huis is, veral wanneer hy by oefeninge opdaag.

“My situasie in Italië was natuurlik die teenoorgestelde, waar daar net twee ouens Engels kon praat en nie een van hulle was die afrigters nie,” skerts hy.

Hy het intussen ’n paar woorde Russies geleer, maar dis nou nie juis die soort woorde wat jy voor jou ma sal herhaal nie, erken hy.

Hy geniet Rusland ongelooflik, maar . . .

“Ek mis my verloofde, Lindie Koch, die meeste, ons het mekaar 142 dae laas gesien. En dan mis ek ook ’n ou braaivleisie en my pa se lapa,” sê Malan.

Meer oor:  Koronavirus  |  Cheetahs  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.