Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vesting Loftus staan, Bulle bly baas
Lizo Gqoboka en Zak Burger van die Bulle vier hul die sege oor die Haaie Saterdag op Loftus Versfeld.Foto: Gallo Images

Welkom op Fort Loftus!

Gaaf, daar het sedert die groot pandemie verlede seisoen toegeslaan het, nog nie weer ’n span soos die Crusaders in Pretoria kom kuier nie.

Dit sal waarskynlik ook nog ’n ruk wees voordat ’n grote soos Leinster in Pretoria aandoen.

So onstuitbaar soos wat die Bulle deesdae op Loftus Versfeld is, sal dit nietemin ’n steil berg wees om uit te klim vir enige besoekende span.

Jake White het die Haaie die afgelope week lekker heuning om die mond gesmeer, maar sy Bulle was vanaand op hul tuisveld nie in ’n bui om hulle verder te vlei op pad na ’n oortuigende sege van 43-9 in die Reënboogbeker-kompetisie nie.

Dit was veral in die tweede helfte dat Duane Vermeulen en sy span korte mette gemaak het van die besoekers.

Die Bulle het 31 punte onbeantwoord opgestapel nadat hulle teen rustyd ’n voorsprong van 12-9 gehad het.

Daar is vele maniere om ’n rugbywedstryd te wen.

Vanaand op Loftus het nie die Bulle of die Haaie aanvanklik daarin belang gestel om hul ontmoeting met aanvallende rugby te wen nie.

Die eerste helfte was by uitstek ’n skop- en skrumstryd met albei spanne wat ’n kans om aan te lê pale toe, wou melk in dié faset.

Gebiedsvoordeel was prioriteit nommer een en in die proses het Morné Steyn dinge vir die tuisspan aan die gang gehou op die telbord met vier strafdoele.

Sy direkte teenstander, Curwin Bosch, se bydrae was nege punte voor rustyd.

Kyk jy na die telbord, was die Bulle in die kol met die benadering en die Durbaniete minder so.

Dit beteken die Bulle is in die White-era onoorwonne in die hoofstad en die Curriebeker-kampioen is met die vertoning ook nou die voorloper in dié reeks.

Daar sal vrae wees oor die besluit om die Haaie se stutte, Ox Nche en Thomas du Toit, te vervang toe Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane opgestuur is.

Veral Gqoboka was briljant en is ook met ’n drie beloon.

Die jong Elrigh Louw was iets ysliks nadat hy die flank Arno Botha vroeg in die wedstryd vervang het.

Die slot Ruan Nortjé se reputasie groei Saterdag ná Saterdag en die Springbok-afrigter, Jacques Nienaber, moet sekerlik in sy rigting begin kyk met Lood de Jager en RG Snyman wat albei nog beseer is.

Nortjé en Walt Steenkamp kan, op grond van hul eerste paar vennootskappe, ’n gedugte kombinasie word vir die Ligbloues.

Maar die aand het behoort aan die veteraan-generaal Morné Steyn, wat weer knap aan die stuur van sy span se aanslag was.

Puntemakers

Bulle 43 (12). Drieë: Lizo Gqoboka, Stravino Jacobs, Schalk Erasmus, Chris Smith. Strafdoele: Morné Steyn (5). Doelskoppe: Steyn, Chris Smith (3).

Haaie 9 (9). Strafdoele: Curwin Bosch (3).

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.