Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Victor: ‘Kies vir RG en Pieter-Steph’
Die Stormers se Pieter-Steph du Toit is ewe tuis op slot en flank. Foto: Gallo Images
Victor Matfield (Gallo Images)

As Victor Matfield die Springbok-afrigter was, sou Lood de Jager een van die eerste name wees wat hy op sy spanlys sou neerskryf.

Maar met dié Bulle-slot wat nou met ’n borsspierbesering op die krukkelys is, sal Matfield graag ’n slotpaar van RG Snyman en Pieter-Steph du Toit wil sien in die Bokke se reeks van drie toetse in Junie teen Engeland.

De Jager moet ’n operasie ondergaan nadat hy ’n borsspier geskeur het in die Bulle se Superrugby-kragmeting Saterdag met die Haaie in Pretoria.

Dit is ’n groot slag dat Lood beseer is, hy was vir my beslis vanjaar die voorste nr. 5-slot onder die Suid-Afrikaners.
Victor Matfield

“Dit is ’n groot slag dat Lood beseer is, hy was vir my beslis vanjaar die voorste nr. 5-slot onder die Suid-Afrikaners. Hy het uitstekend gevaar met die roep van die lynstaantekens,” het die voormalige Bok-ranker Matfield Dinsdag gesê.

De Jager is nie die enigste Bok-slot op die krukkelys nie. Verlede jaar se Bok-kaptein, Eben Etzebeth, is in ’n wedloop teen tyd gewikkel om gereed te wees vir die eerste toets teen Engeland op 9 Junie. Hy sukkel met ’n skouerbesering en sal uiteraard nie wedstrydfiks wees as hy wel betyds van sy besering herstel nie.

Die Bulle se RG Snyman speel vanjaar kookwaterrugby. Foto: Gallo Images

“Gelukkig het ons nog baie goeie slotte in die land. Ek sal nou met ’n slotpaar van Pieter-Steph op nr. 5 en RG op nr. 4 volhard,” sê hy.

Matfield glo Snyman (23) se beste posisie kan moontlik nr. 5 wees, met Du Toit wat eintlik ’n nr. 4-slot is.

“Pieter-Steph hou van inklim en hy is daardie Danie Rossouw-tipe-speler wat ewe tuis op nr. 4-slot en steelkantflank is.

“Ek het baie met RG gewerk toe hy nog ’n junior was en hy het potensiaal as ’n nr. 5. Hy het daar goed gevaar in die lynstane, maar op toetsvlak is dit ’n ander storie. Dit is dalk ’n goeie idee om hom nou blootstelling te gee,” sê hy.

Matfield sal vir Snyman aanvanklik in die nr. 4-trui kies om die druk op hom te verlig. Du Toit (25) is reeds ’n ervare Bok met 32 toetse op sy kerfstok. Dit sal dus vir hom makliker wees om die lynstane te beheer.

Die Bulle se Jason Jenkins en die Leeus se Franco Mostert is van die ander slotte wat Matfield vir die Bok-groep sal oorweeg.

“Jason speel goeie rugby en Sous (Mostert) is ook een van daardie spelers wat goed vaar in die nr. 4- en nr. 7-trui,” sê hy.

Jason speel goeie rugby en Sous (Mostert) is ook een van daardie spelers wat goed vaar in die nr. 4- en nr. 7-trui.
Victor Matfield

Die Stormers se jong JD Schickerling wonder seker wat hy die rugbygode aangedoen het. Met De Jager én Etzebeth langs die kantlyn, sou dit dalk ’n uitstaande geleentheid gewees het om te sien wat Schickerling (22) op toetsvlak kan vermag, maar hy is ook lank buite aksie met ’n boarmspierbesering. Menige kenners bestempel hom as ’n toekomstige Bok.

Ruan Botha, die Haaie se kaptein, is nog ’n opsie wat Rassie Erasmus, die Bok-breier, kan oorweeg. Botha (26) was in 2017 ’n lid van die Bok-groep wat in November in Europa getoer het, maar hy het nie speelkans gekry nie.

Hy is oor die hoof gesien toe Erasmus vroeër vanjaar 15 Haaie na ’n beplanningskamp genooi het, maar as hy goed kan vertoon in die laaste twee Super-wedstryde voor die Junie-toetstydperk, kan hy die Bok-breier moontlik oortuig om hom ’n kans te gee.

Die Springbok-groep vir die reeks toetse teen Wallis (2 Junie in Washington) en Engeland, sal op 26 Mei aangekondig word. Daar sal nie ’n aparte groep vir die toets teen Wallis aangekondig word nie, maar een groot groep van ongeveer 40 spelers.

Die groep sal die volgende dag saamtrek.

Meer oor:  Victor Matfied  |  Rg Snyman  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Pretoria  |  Rugby  |  Slotkrisis  |  Toetse  |  Beserings  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.