Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Viking’ sal Kings saam met ander lei

Die Viking sal straks dié seisoen die meeste kere die Southern Kings in hul Pro14-wedstryde op die veld lei.

Die “Viking” soos JC Astle in sommige kringe bekend staan, tel onder ’n handvol spelers wat die Kings hierdie seisoen op die veld sal lei. Foto: Gallo Images

Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter, sê die slot JC Astle – wat met sy welige baard nogal na die Vikings in ou rolprente lyk – sal “waarskynlik die Oos-Kapenaars se groep-kaptein” wees.

“Maar ons het nie ’n probleem om op ’n spesifieke dag ’n ander kaptein vir ’n wedstryd te kies nie,” sê Kempson.

Die Kings het reeds in hul drie opwarmingswedstryde drie verskillende kapteins gebruik.

Die skrumskakel Stefan Ungerer was teen Georgië die kaptein en die losvoorspeler Lusanda Badiyana en Astle het elkeen die Kings in ’n wedstryd teen Namibië aangevoer.

Astle was ook verlede seisoen, toe Deon Davids nog die hoofafrigter was, die Oos-Kapenaars se kaptein.

Kempson beklemtoon dat hy nie van plan is om dieselfde vyftiental week-in en week-uit op die veld te stuur nie.

“Dit sal beslis nie gebeur nie. Ons sal ’n speler kies afhangende van die tipe wedstrydplan vir die dag,” sê hy.

“Ons teenstanders speel nie almal dieselfde nie. Die Cardiff Blues en Munster speel byvoorbeeld heeltemal anders.”

Kempson verwys na die senters om te verduidelik hoe spelers ingespan kan word.

Daar kan ook op manne soos Stefan Ungerer (voor) en Ruaan Lerm (met baard) se knoppies gedruk word om die Kings aan te voer. Foto: Gallo Images

“Ouens soos Howard (Mnisi) en Tertius (Kruger) speel ’n baie anderste soort spel as JT (Jackson) en (Christopher) Hollis,” sê hy.

“So, afhangende van wat ons beplan vir die dag, sal ons besluit wie sal speel.”

Die leiers sal dieselfde behandel word. Kempson wil nie hê die span moet net op een leier staatmaak nie, want wat gebeur as hy beseer word?

“Ons het ons leiersgroep en ouens soos JC, Stefan en Lusanda kan as kapteins gebruik word. ’n Ou soos (Ruaan) Lerm en Howard is ook in die prentjie,” sê hy.

Die Kings skop hul Pro14-seisoen volgende Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion teen die Cardiff Blues af.

Meer oor:  Jc Astle  |  Pro14  |  Robbie Kempson  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.