Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Covid-19-virus ‘bedreig rugby as bedryf’

Daar heers “groot kommer” onder werknemers van plaaslike rugbyunies oor hoe die Covid-19-pandemie hul inkomste kan raak.

So sê Piet Heymans, uitvoerende hoof van die vakbond Sport Employees Unite (SEU), wat baie van die unies se administrateurs verteenwoordig.

Piet Heymans, uitvoerende hoof van Sport Employees Unite. Foto: Gallo Images

“Dit het ’n geweldige impak op almal, nét soveel op die administrateurs as op die spelers,” het Heymans aan Netwerk24 gesê.

“Almal is bekommerd hoe lank dit gaan duur en of dit op die ou end ’n impak op begrotings gaan hê. Die hele ekostelsel van die spel word daardeur bedreig. Die implikasies is groot en wyd.”

Sanzaar, die beheerliggaam van die Superreeks, het verlede naweek aangekondig dat hy dié reeks vir eers opskort.

Dít het gevolg op ’n aankondiging deur Nieu-Seeland se regering dat enigiemand wat na dié land terugkeer, hulself vir 14 dae móét isoleer. Spelers word daarby ingesluit.

Met die dat rugby nie gespeel word nie, is daar vir unies geen hekinkomste nie.

Alle bedrywe moet proaktief optree deur gebeurlikheidsplanne te skep en om hulp van die regering te vra om te verhoed dat hulle doodloop.
Piet Heymans

Die uitsaaier, SuperSport, het ook betaal vir regte wat hy nie kan uitoefen nie.

“Dis belangrik dat daar ’n gesprek is oor wat SuperSport en borge se verwagtinge in die onseker tye is. Die rolspelers betaal aansienlike bedrae vir sportinhoud en blootstelling.

“Met geen rugby om te beeldsend nie, gaan dit in die toekoms ’n probleem raak. Die belanghebbendes móét praat om te verseker dat die rugbybedryf staande bly,” sê Heymans.

“Alle bedrywe moet proaktief optree deur gebeurlikheidsplanne te skep en om hulp van die regering te vra om te verhoed dat hulle doodloop.”

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) kon vandeesweek geen konkrete inligting oor gesprekke met die uitsaaier en borge verskaf nie.

“Ons werk nou saam met ons uitsaaivennoot, SuperSport, en ander rolspelers. Meer inligting sal bekendgemaak word sodra ons in ’n posisie is om dit te doen,” het Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, by navraag gesê.

SuperSport wou nie kommentaar lewer oor sy verwagtinge nie.

“SuperSport het sterk vennootskappe van baie jare met die relevante houers van sportregte. Ons praat nie in die media oor ons kommersiële ooreenkomste met vennote nie,” het die uitsaaier sy posisie uitgestippel.

Ons regsadvies bevestig dat die regte van werknemers gedurende die tyd beskerm moet word. Werkgewers kan nie weens die virus met ’n afleggingsproses begin nie.

Sanzaar wou ook nie kommentaar lewer op ’n vraag of hy sy lede finansieel gaan bystaan nie.

Een ding wat rugbyunies nie kan doen nie, is om werknemers onmiddellik te begin aflê.

“Ons regsadvies bevestig dat die regte van werknemers gedurende die tyd beskerm moet word. Werkgewers kan nie weens die virus met ’n afleggingsproses begin nie.

“Hulle kan dit slegs begin doen wanneer die virus se impak die onderneming finansieel daartoe dwing,” sê Heymans.

“Almal besef die afsienbare toekoms is van kritieke belang om die virus te probeer hokslaan. Meeste van my lede en die unies is baie tegemoetkomend in hul benadering. Mense word toegelaat om van die huis af te werk, wat baie help.”

* Intussen het die WP Rugbyunie se werknemers besluit om vir eers die protesaksie wat voortgespruit het uit ’n geldtwis met dié unie, op die lange baan te skuif.

Hulle was van plan om by die Stormers se volgende tuiswedstryd – teen die Rebels later vandeesmaand – ’n plakkaatoptog te hou.

“Ons voorstel is om hierdie tyd te gebruik om te kyk of die werknemers en unie mekaar met raakpunte kan vind,” sê Heymans.

Meer oor:  Koronavirus  |  Supersport  |  Covid-19  |  Saru  |  Sanzaar  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.