Sondag se Sesnasiestoets in Parys tussen Frankryk en Skotland is in die weegskaal nadat nog vyf Hane positief getoets is vir die koronavirus.

Charles Ollivon, Frankryk se kaptein. Foto: Getty Images
Rugby365 berig die Franse kaptein, Charles Ollivon, het die virus opgedoen en sal die kragmeting misloop saam met nege ander Les Bleus-spelers – en 14 groeplede in totaal – wat positief getoets is. Hulle sluit in die span se afrigter, Fabien Galthie, en die sterskrumskakel Antoine Dupont.
Les Bleus is boaan die Sesnasies-punteleer ná oorwinnings in die eerste twee rondes teen Italië en Ierland.
’n Besluit of oor die wedstryd sal voortgaan, word Woensdag geneem. Skotland sê in ’n verklaring hy is gretig dat die toets Sondag beslis word.
Die organiseerders van die reeks sê in ’n verklaring indien daar besluit word dat die wedstryd nie kan voortgaan nie, sal dit vir die vroegste moontlike datum geherskeduleer word.
Ollivon, Brice Dulin, Cyril Baille, Romain Taofifenua en Peato Mauvaka is Maandag positief getoets.
Mauvaka is die enigste van die tien spelers wat nie lid was van die 23-tal vir die vorige toets teen Ierland nie.
Die betrokke spelers en personeel wat positief getoets is, sal huis toe keer om te isoleer terwyl die res van die span Woensdag na die oefenveld terugkeer, met toetse wat elke 24 uur gedoen sal word.
Dupont, die senter Arthur Vincent, haker Julien Marchand, vleuel Gabin Villiere en stut Mohamed Haouas is reeds in isolasie nadat hulle verlede week positief getoets is.
Galthie en die hulpafrigter William Servat is ook vandeesweek positief getoets en bly in isolasie.
Die groentjies Gaetan Barlot, Thierry Paiva en Cyril Cazeaux het hulle by die span aangesluit, asook Baptiste Pesenti en Thomas Ramos.
Skotland is vierde op die punteleer nadat hy in sy openingswedstryd teen Engeland geseëvier het voor ’n nederlaag teen Wallis.
– Sportredaksie