Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vishuis vir die 5de keer koshuiskonings

’n Kragvertoning deur die agttal van Vishuis het die grondslag gelê vir hul oortuigende sege oor Patria in die eindstryd van die Varsitybeker-reeks vir koshuise gister in Pretoria.

Speler van die reeks. Wian van der Watt, senter van Vishuis, duik oor vir sy drie in die eindstryd vir koshuise teen Patria van die Pukke gister in Pretoria waar Vishuis met ’n oortuigende sege van 25-10 die vyfde keer met dié titel weggestap het.Foto: Saspa

Vishuis was, in ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd, die keer met 25-10 aan die wenkant nadat hy rustyd met 13-5 voorgeloop het.

Dit was Vishuis se tweede agtereenvolgende en vyfde titel in die koshuiskompetisie. Dit was ook die sewende keer sedert 2008 dat ’n koshuis van die Universiteit van die Vrystaat met die louere weggestap het.

Benewens die drywe en inklimspel van Vishuis se voorspelers verdien die span se verdediging ook vermelding.

Die Bloemfonteinse studente het die telbord aan die rol gekry toe die slot Charl du Toit van ’n goeie dryfmaalbeweging van ’n lynstaan af gaan druk het.

Die slot is as speler van die wedstryd aangewys.

Sy slotmaat, die kaptein Stephen Botha, het self ’n barshou gespeel.

Patria het nie antwoorde vir Vishuis se dryfwerk gehad nie.

Vishuis het in die eerste helfte twee keer oor die doellyn gegaan, maar kon nie die bal op die grond kry nie.

Hoewel die koshuisspan van die Pukke by meer as een geleentheid daarin geslaag het om besit by die afbreekpunte om te keer, kon hy dit nooit tot sy voordeel aanwend nie.

Selfs toe Vishuis met 14 spelers gespeel het nadat die vleuel Ruan Janse van Rensburg ná slegs vier minute met ’n geelkaart vir ’n boorvat afgestuur is, kon Patria nie daarin slaag om punte aan te teken nie.

Patria se binnesenter Wilbri Gunter het in die eerste helfte gaan druk. Die skrumskakel Garann Kriek het met tien minute se speeltyd oor ook gaan druk, maar die skrif was toe reeds aan die muur.

Die senter Wian van der Watt, wat een van Vishuis se drie drieë gedruk het, is ná die tyd as speler van die reeks aangewys.

Puntemakers:

Vishuis 25 (13) Drieë: Charl du Toit, AJ Brits, Wian van der Watt. Doelskoppe: Dale de Wet (2x3). Strafdoele: De Wet (2x2).

Patria 10 (5) Drieë: Wilbri Gunter, Garann Kriek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.