Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vleis soek groener weivelde in Frankryk
Vleis Engelbrecht se rugbyloopbaan het die laaste paar maande in Boland-kleure weer op dreef begin kom.Foto: Gallo Images

Die Southern Kings se voorbereiding vir 2017 se Superrugbyreeks is ’n eerste gevoelige slag toegedien met die nuus dat een van hul staatmaker-losvoorspelers, Jacques Engelbrecht, besluit het om sy loopbaan in Frankryk voort te sit.

Engelbrecht het ’n kontrak van twee jaar met US Montauban, ’n klub in die Franse Tweede Liga, aanvaar.

Netwerk24 het Woensdag berig dat Engelbrecht, alombekend as Vleis, deel van die Oos-Kaapse franchise se gekontrakteerde groep vir 2017 is.

Die Kings se ander gekontrakteerde spelers is die skrumskakel James Hall, losskakel Louis Fouché, heelagter/vleuel Malcolm Jaer, senter/vleuel Siyanda Grey, Thembelani Bholi en CJ Velleman en die slot/flank Tyler Paul.

Engelbrecht het aan die begin van die 2016-seisoen ’n kontrak van twee jaar onderteken om Superrugby vir die Southern Kings te speel.

Dié 31-jarige boorling van Kraaifontein het ná die Kings se Superveldtog by die Boland-Kavaliers aangesluit vir die Curriebekerseisoen. Hy het die week weer by sy vrou en kind in Port Elizabeth aangesluit, maar sy terugkeer na die Oos-Kaap gaan kortstondig wees.

Engelbrecht sê hy het besluit om die oorsese skuif te maak in die hoop om ’n kontrak by ’n Franse klub in die prestigeryke Top 14-liga los te speel.

“Ek sien dit as my kans om my voet in die deur te kry en weer van my beste rugby te speel.”

Volgens hom is dit nou vir hom die regte tyd om in sy loopbaan aan te beweeg en daarom het hy besluit om die Kings te verlaat.

Die besluit om vir die Kavaliers eerder as die Oostelike Provinsie-Kings Curriebekerrugby te speel, was ook volgens Engelbrecht die regte besluit.

“My tyd hier in die Boland was regtig goed vir my rugby. Ek dink in my laaste twee wedstryde (teen die Blou Bulle en Westelike Provinsie) het ek weer my selfvertroue gevind.

“Ek dink my spelpeil het begin agteruit boer toe ek die skuif na die Blou Bulle (vanaf die Kings in 2013) gemaak het. Daar het ek min geleenthede (in Superrugby) gekry. Die eendimensionele rugby wat hulle ook in daardie stadium gespeel het, het my goeie aspekte in swakpunte verander. Dit het my selfvertroue ’n knou gegee.”

Engelbrecht het voor die begin van verlede jaar se Curriebekerseisoen teruggekeer na die OP-Kings.

Dít was egter ’n moeilike tyd in sy loopbaan toe hy en verskeie spelers vir etlike maande lank nie betyds salarisse ontvang het nie.

Hy was een van die gelukkige spelers wat later toe ’n Superrugby-kontrak ontvang het nadat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) beheer oorgeneem het van die Southern Kings, terwyl die OP Rugbyunie probeer het om oplossings vir sy geldkrisis te vind.

Daar is gehoop dat Engelbrecht vir die OP sou Curriebekerrugby speel, maar volgens hom sou speeltyd daar dalk nie gehelp het om sy eie spel weer op dreef te kry nie.

“Ek is bly ek het Boland toe gekom. ’n Mens weet nooit wat sou gebeur het as ek daar gebly het nie. Ek is net verheug dat al die drama nou iets van die verlede is.”

Meer oor:  Boland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.