Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Volmink kan vergoed op vinniger veld

Die Cardiff Blues kan die terugkeer van die Cheetahs se haastige Anthony Volmink in die spanne se Pro14-wedstryd Saterdag in Cardiff ontgeld.

Die blitsige vleuel was in die eerste vier wedstryde in die beginspan, maar is ná die eerste toerwedstryd weggelaat.

Hy is sommer weer lus om speel en sal wil vergoed noudat hy weer in die opdrafspan is.

Anthony Volmink is weer in die Cheetahs se beginspan ingesluit vir Saterdag se Pro14-wedstryd teen die Cardiff Blues in Cardiff, Wallis. Foto: Gallo Images

“Ek het myself in ’n gemaksone bevind en het toe ietwat slapgelê,” erken hy.“Nou is ek eintlik bly dit (sy weglating) het met my gebeur. Ek is sommer lus om die naweek te speel. Nie almal kry altyd die geleentheid om in die beginspan te wees nie, so ek is dankbaar dat ek weer saam met die span kan opdraf,” sê Volmink.

“Ek sal uiteraard my bes moet doen en by die wedstrydplan moet hou en sodoende help dat ons ’n sege op die toer kan kry.”

Die feit dat Saterdag se wedstryd op ’n kunsmatige oppervlak is, het straks tot sy herinsluiting bygedra.

Die verwagting is dat die veld vinnig sal wees. Dit sal dié spoedvraat soos ’n handskoen pas.

“Ek dink die kunsmatige oppervlak gaan nie net my nie, maar ook die span perfek. Die veld is vinnig en dit tel in ons guns want ons speel teen ’n vinnige tempo,” sê Volmink, wat vandeesweek ’n proesel van die oppervlak tydens oefening gekry het.

Hy sê nuus oor die Cardiff Blues is maar skraps. Hulle wag nog om te sien hoe die tuisspan gaan lyk, wat dalk ’n paar Wêreldbeker-spelers kan inspan.

Nou moet ek seker maak ek bly deel van die groep want hier is baie spelers wat om plekke meeding.
Anthony Volmink

Die 29-jarige Volmink en die losskakel George Whitehead is leenspelers van Griekwas wat tot aan die einde van die Pro14-reeks beskikbaar is vir die Cheetahs.

Hy sê hulle het goed by die span aangepas.

“Ek ken baie van die Cheetah-spelers, wat dit natuurlik baie maklik gemaak het om by die span in te skakel.

“Ek het van die begin af ingekoop in wat die afrigtingspan onder leiding van eers Franco Smith en nou Hawies Fourie, van my verwag, en hoe dinge gedoen word.

“Nou moet ek seker maak ek bly deel van die groep want hier is baie spelers wat om plekke meeding.”

Meer oor:  Cardiff Blues  |  Pro14  |  Cheetahs  |  Anthony Volmink
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.