SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
‘Vonk van opwinding trek deur Kings’
Vuyo Zangqa, die Kings se agterlynafrigter.Foto: Gallo Images

Of dit nou volgende week reën of nie, die Southern Kings wil graag ’n haas of twee uit die hoed pluk wanneer hulle volgende naweek in Galway, Ierland, in ’n Pro14-wedstryd teen Connacht speel.

Vuyo Zangqa, die Kings se agterlynafrigter, sê die Oos-Kapenaars wil die Ierse klub “straf” wanneer hulle kans kry.

“In ons vorige wedstryd (teen die Ospreys) het ons verdedigingstrukture goed uitgewerk en hopelik kan ons nou daarmee volhou,” sê Zangqa.

“Maar ons het die afgelope tyd ook weer hard aan ons aanvalstrukture gewerk.

“Of dit nou reën of nie, ons moet nog steeds doeltreffend kan aanval en ons teenstanders op die aanval kan straf.”

Slegte weer en beserings het sover ’n groot invloed op veral die Kings se vertonings agterlangs gehad.

Met die gesoute senter Howard Mnisi terug, het dinge goed georganiseerd gelyk teen die Ospreys.

Die skrumskakel Stefan Ungerer is reg om weer vir die Kings te speel. Foto: Gallo Images

Nog ’n staatmaker, die skrumskakel Stefan Ungerer, kan ook sy terugkeer teen Connacht maak nadat hy ’n tyd lank met ’n beenbesering buite aksie was.

Daar is ook ’n moontlikheid dat die blitsige Yaw Penxe eindelik sy probleme met ’n dyspier afgeskud het en weer na die speelveld kan terugkeer.

Intussen is Zangqa baie gelukkig met hoe van die jonger spelers hul kanse aangegryp het.

“As ’n afrigtingsgroep is ons tevrede met waar ons ons bevind met die jong spelers,” sê hy.

“Party van hulle het hulle kanse aangegryp en in sommige gevalle – soos JT Jackson en Elrigh Louw – was dit sommer met albei hande.

“Dis wat ons met die oog op die toekoms wil sien. Dit gaan nie net oor 2019 nie, dit gaan daaroor om die span op te bou vir die toekoms.”

Natuurlik mik die span nou ook in elke wedstryd na ’n oorwinning en wag hulle nie net vir die toekoms nie.

Die oorwinning oor die Ospreys het ’n vonk van opwinding deur die span laat trek.
Vuyo Zangqa

“Die oorwinning oor die Ospreys het ’n vonk van opwinding deur die span laat trek,” sê Zangqa.

“Ons het ons eerste drie tuiswedstryde verloor en op toer was daar ’n groot nederlaag (teen die Glasgow Warriors), so ons het daardie oorwinning baie nodig gehad.

“Jy kan sommer sien watter invloed dit op die spelers gehad het. Daar is nuwe energie op die oefenveld en almal soek ’n plek in die beginspan.”

Meer oor:  Stefan Ungerer  |  Vuyo Zangqa  |  Galway  |  Port Elizabeth  |  Ierland  |  Connacht  |  Skrumskakel  |  Pro14  |  Rugby  |  Kings  |  Agterlyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.