Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Voorry-stryd vir fynproewers in Durban
Hulle sak saam in die Springbokke se voorry, maar Saterdag is Frans Malherbe (links) en Tendai Mtawarira teenstanders in die Superrugby-wedstryd tussen die Stormers en Haaie op Kingspark in Durban. Foto: Gallo Images

’n Voorry-stryd vir die fynproewer is op die Haaie en Stormers se spyskaart vir Saterdag se Superrugby-wedstryd in Durban.

Die tuisspan spog met Tendai ‘Beast’ Mtawarira en een van Coenie Oosthuizen of Thomas du Toit weerskante van die haker Akker van der Merwe.

Aan Stormers-kant is daar ook twee Springbok-vaskoppe in Frans Malherbe en Wilco Louw. Die onderskatte Ali Vermaak is waarskynlik vir die loskopkant geoormerk, met Bongi Mbonambi wat straks as Van der Merwe se regstreekse teenstander sal aantree.

Malherbe verwag ’n drukkokerstryd op Kingspark.

“Beast en die manne is baie goed. Hulle dwing baie respek af. Dit sal ’n tamaai stryd wees, maar ons sal gereed wees,” sê Malherbe.

Beast en die manne is baie goed. Hulle dwing baie respek af. Dit sal ’n tamaai stryd wees, maar ons sal gereed wees.
Frans Malherbe

Van die vier vaskoppe wat na verwagting Saterdag in aksie gaan wees – Malherbe, Louw, Oosthuizen en Du Toit – sal waarskynlik net drie op die vliegtuig klim vir vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Onder baie ondersteuners heers daar ook ’n persepsie dat Van der Merwe ’n beter haker is as Mbonambi, wat by die Bokke Malcolm Marx se adjudant is. Volgende in die tou is Schalk Brits, wat in Mei 38 word.

Hierdie ranglys het waarskynlik ’n wesenlike invloed gehad op Van der Merwe se besluit om ná vanjaar sy tasse vir die Engelse klub Sale te pak.

Die afgelope paar seisoene is die Stormers en Westelike Provinsie meestal baas in die skrums teen die Haaie, maar Malherbe sê dis “in die verlede”.

“Ek dink nie die geskiedenis het ’n invloed nie. Jy kan nie só iets in berekening bring nie. Dis Saterdag ’n nuwe uitdaging en ons sal op ons beste moet wees,” sê hy.

Robbie Fleck (Gallo)

Malherbe stel sy visier ook hoër nadat hy hom weens Louw se seer rug onverwags in die beginspan gevind het vir die wedstryd teen die Leeus. Robbie Fleck, die Stormers se afrigter, het Malherbe vir sy vertoning geloof gegewe dat hy nie in voorseisoense wedstryde of die vorige naweek se wedstryd teen die Bulle gespeel het nie. Met ’n bietjie wedstrydfiksheid behoort dit nóg beter te gaan.

“Dis baie lekker om 65 minute onder die gordel te hê, maar ek moet aansienlik beter doen. Gelukkig is daar nog baie tyd daarvoor,” sê hy.

Die verwagte nat toestande kan straks vir ’n groter klem op die skrums sorg, maar Malherbe is min gepla.

“Wie weet. Ons sal moet sien. Hulle voorspel ’n bietjie reën,” sê Malherbe voordat hy in drie woorde verduidelik waarom hy min gepla is: “Ek’s ’n stut.”

Meer oor:  Frans Malherbe  |  Beast Mtawarira  |  Durban  |  Stormers  |  Haaie  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.