Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Straeuli brei uit oor Leeus se diepte

Die voorspelers bepaal of jy gaan wen. Die agterspelers besluit hoe ver jy gaan wen.

Dit is hoe Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus en ’n eertydse Springbok-agtsteman en ook -afrigter, die situasie opsom oor die rol van die onderskeie rolspelers in ’n rugbywedstryd.

Die Leeus was vroeër ’n krag om mee rekening te hou toe Johan Ackermann hulle gebrei het. Foto: Getty Images

Straeuli is gevra of hy met die Leeus daarna streef om terug te keer na die span se onlangse gloriedae met Johan Ackermann as hoofafrigter toe hul ’n bobaasagttal gehad het wat teenstanders se aanslag voorlangs kon smoor.

“Dit gaan oor besit en aanval. Jy kan nie net op jou voorspelers staatmaak nie. Kyk maar wat nou in Nieu-Seeland met die Aotearoa-reeks gebeur het.

“Die Blues het ’n baie goeie agttal gehad, maar die Crusaders het gewys jy moet daardie balans hê tussen goeie voorspelers wat besit kan bewerkstellig, maar dan ook die goeie agterspelers wat dit kan benut. Daarom glo ek daaraan dat jou voorspelers besluit of jy gaan wen, maar die agterspelers besluit hoe ver dit gaan wees,” sê hy laggend.

Straeuli voel op enkele uitsonderings na het die Leeus nou baie goeie diepte in elke posisie. Hy wou nie uitwei oor watter posisies hy voel daar nog versterkings bygevoeg kan word nie.

“In omtrent elke posisie het ons nou drie spelers wat met groot oortuiging gebruik kan word. Een daarvan is beslis die vaskop waar oud-Springbokke soos Jannie du Plessis en Ruan Dreyer saam met Wiehahn Herbst en Carlu Sadie meeding,” sê Straeuli.

“Ons is ook in die gelukkige posisie dat Dreyer aan albei kante van die skrum kan speel, loskop en vaskop, en dit sal beslis baie help. Dit is fantasties dat spelers soos Willem Alberts, Jaco Kriel, Ruan Dreyer, Jannie du Plessis en Wiehahn Herbst besluit het om van oorsee terug te keer huis toe (Suid-Afrika) en weer hier ’n bydrae te kom lewer. Ons is baie dankbaar daarvoor.”

In omtrent elke posisie het ons nou drie spelers wat met groot oortuiging gebruik kan word.
Rudolf Straeuli

Hy sê wanneer dit nou weer gebeur dat die Leeus wegwedstryde speel, sal daar weens die dreigende virussituasie eerder 25 of 26 spelers saamgevat word as net die 23 wat mag speel.

“As dit gebeur dat iemand op die oggend van ’n wedstryd olik voel, kan hy dan vervang word en hoef ons nie kanse te waag nie.”

Straeuli reken die Leeus se spelers en afrigtingspan pas goed aan by die Covid-protokolle.

“Daar word omtrent ’n dagboek gehou van elke speler se bewegings elke dag en met wie hy in verbinding was. So kan enige abnormaliteit baie vinnig opgetel word en plan mee gemaak word as dit nodig sou wees,” sê hy.

Volgens Straeuli is die Leeus ongeveer drie weke weg daarvan om te kan speel as daar nou ’n wedstrydprogram aangekondig word.

“Ek voel alles verloop volgens plan by ons danksy ons mediese personeel en die ervaring wat daar is wat kondisionering betref. Ek kry die idee die spelers raak nou moeg van net blote kondisionering en fiksheid en dat hulle omtrent brand om weer wedstryde te kan speel.”

Meer oor:  Johannesburg  |  Leeus  |  Rudolf Straeuli  |  Covid-19  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.