Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrae oor formaat, maar Kavaliers oefen kliphard
Vian van der Watt wat in 2012 die Wêreldtoernooi vir o.20-spelers saam met die Junior Springbokke in Kaapstad gewen het, speel die seisoen vir die Boland-Kavaliers. Foto: Gallo Images

Dit sal vir Randall Modiba ’n lekker veer in sy hoed wees as hy in sy eerste seisoen as hoofafrigter van die Boland-Kavaliers in die Curriebeker se Premierliga kan afrig.

Die Kavaliers het verlede jaar ’n terugkeer tot provinsiale rugby se voorste kompetisie gemaak. Hulle het saam met die Pumas en Griekwas as die drie beste unies sonder Superrugbystatus vir die Premierliga gekwalifiseer.

Daar heers egter onsekerheid oor die formaat van die seisoen se Curriebeker-kompetisies (Premierliga en Eerste Liga).

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se uitvoerende raad moet nog besluit oor ’n nuwe formaat en of die een wat verlede seisoen gebruik is weer geïmplementeer sal word.

Al 14 unies het in ’n kwalifiserende reeks (Provinsiale Reeks) teen mekaar gespeel, met die drie beste spanne sonder Superrugbystatus wat vir die Premierliga gekwalifiseer het. Spanne met Superrugbystatus (Blou Bulle, Haaie, Leeus, Oostelike Provinsie, Westelike Provinsie en die Vrystaat) het outomaties vir die Premierliga gekwalifiseer.

Saru sal glo later vandeesmaand ’n aankondiging oor die nuwe formaat maak, maar daar word betroubaar verneem unies is ongelukkig oor die voorgestelde veranderinge aan die kompetisies.

Volgens Modiba sal hy en sy span dit geniet as die Kavaliers weer die kans gaan kry om teen die beste unies in die land te speel. Hy sal egter saam met sy spelers en mede-afrigters die veranderinge aan die kompetisie eerbiedig.

“Dit is iets wat buite ons beheer is en al wat ons kan doen, is om op ons voorbereiding vir die seisoen te fokus,” het Modiba gesê. “Ons wil Bolandrugby dié jaar na ’n hoër vlak neem in terme van die manier waarop ons wil speel.

“Die seisoen is ook ’n geleentheid vir ons om nuwe spelers blootstelling te gee.

“Ons wil ook die Boland se goeie tradisie voortsit van klubspelers blootstelling in provinsiale rugby gee.”

Modiba het reeds vier uitblinkers van verlede seisoen se klubkompetisie by sy groep betrek. Hulle is die flank Wesley Adams (Saldanha), Gershwin Walker (Elandsbaai, vleuel), Brendan Hunter (Hawston, haker) en Chad Kleinschmidt (Hawston, heelagter).

Modiba het sedert sy aanstelling as die nuwe breier ’n rits nuwe spelers vir die Wynboere gekontrakteer.

Daar is veral versterkings onder die voorspelers aangebring ná ervare manne soos Basil Short (vaskopstut), Hanno Kitshoff en Joubert Horn (albei slot) uitgetree het. Enoch Mnyaka (vaskop) het hom by die Haaie aangesluit.

Om die slotdepartement te versterk het Modiba vir Rinus Bothma vanaf die Pirates-klub in Johannesburg gekontrakteer. Bothma het al klubrugby vir Perpignan in Frankryk gespeel en ook Wits Universiteit in die Varsitybekerreeks verteenwoordig.

Modiba het ook jong slotte Dylan Pieterse (OP-Kings) en Marlyn Williams (Valke) na Wellington gebring.

Rinus Botma het verlede jaar klubrugby in die Gold Cup vir Pirates gespeel. Foto: Gallo Images
Elgar Watts Foto: Gallo Images

Die grootste versterking is onder die stutte aangebring met die Leeus se Arnout Malherbe (loskop) en Clinton Theron (vaskop) wat ook Wellington hul nuwe tuiste noem.

Die voormalige vaskop van die OP-Kings Vukile Sofisa (vaskop) en Stefan Grundlicht (loskop, Bulle) speel ook dié seisoen vir die Kavaliers.

Die skrumskakel Vian van der Watt, wat die Junior Springbokke gehelp het om in 2012 die Wêreldtoernooi vir o.20-spelers te wen, gaan ook vanjaar vir die Kavaliers uitdraf.

* Die Kavaliers se nuwe spelers is: Agterlyn: Elgar Watts, Freddie Muller, JP Coetzee, Vian van der Wath, Alcino Isaacs, Charlie Mayeza, Gershwin Walker, Chad Kleinschmidt. Voorspelers: Marlyn Williams, Rinus Bothma, Dylan Pieterse, Vukile Sofisa, McMillan Muller, Arnout Malherbe (loskopstut, Leeus), Clinton Theron, Stefaan Grundlingh.

Meer oor:  Curriebeker  |  Wellington
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.