Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vreemde Loftus wag Saterdag op almal
Ondersteuners kyk in Maart hoe die Bulle en die Highlanders mekaar aandurf op Loftus in die Superreeks. Dié kompetisie is net meer as ’n week later opgeskort weens die Covid-19-pandemie. Saterdag, met die hervatting van rugby in Suid-Afrika, sal geen toeskouers in Loftus toegelaat word nie. Foto: Gallo Images

’n Logistieke nagmerrie vir ’n Saterdag sonder enige toeskouers op Loftus Versfeld is ’n unieke eerste vir die heiligdom van die Blou Bulle.

En dit verg deeglike beplanning, want daar is deurgaans ’n nuwe uitdaging, sê Hugo Kemp, Loftus se bedryfsbestuurder.

Hy is ook die Covid-19-bestuurder vir die twee Superfan-wedstryde tussen die Superrugby-franchises.

Loftus is al 22 jaar Kemp se kantoor en hy was voorheen lank die stadionbestuurder.

“Toe daar in die verlede sulke groot beplanning was, was dit voor ’n eindstryd, wat voor ’n volgepakte stadion gespeel is.

“Dit is vreemd om dit nou te doen sonder dat daar ’n enkele ondersteuner gaan wees.”

Daar sal Saterdag, weens Covid-19-regulasies waaraan voldoen moet word, ’n beperking van 174 mense wees, wat SuperSport se span insluit.

Dit beteken dat die Bulle en die Haaie, wat in die eerste wedstryd speel (afskop om 16:30), ná die eindfluitjie geblaas het, hul sweetpakke gouer as later moet aantrek om die stadion te verlaat.

Hoe baie het nie verander sedert Maart nie. Die Springbok-heelagter Warrick Gelant probeer ’n Highlander op Loftus ontduik. Hy kom Saterdag as ’n Stormer by sy ou tuisveld aan. Foto: Gallo Images

“Hulle sal nie eens kan stort nie. Daar sal dalk ’n kort tydjie wees wat al vier spanne by die stadion is, maar die Bulle en die Haaie mag nie bly vir die tweede wedstryd tussen die Stormers en die Leeus nie (19:00).

“Die spanne sal ook verskillende in- en uitgange by die stadion gebruik.”

Kemp sê Loftus het 11 kleedkamers, wat hulle beplanning vergemaklik.

Die spelers sal almal Vrydag vir die koronavirus getoets word en hul koors sal Saterdag gemeet word voordat hulle na Loftus vertrek.

Kemp moet vooraf in kennis gestel word of daar enige positiewe gevalle opgeduik het.

“Al die vereistes en protokolle wat nagekom moet word, is ’n storie.

“Daar moet sekere sones geskep word, want die baljoggies en personeel wat moet werk, sal by ’n ander ingang aanmeld en mag nie in aanraking kom met mense van ander sones nie.

“Weens die beperking tot 174 mense, sal die persoon wat byvoorbeeld in beheer is van die telbord, voor die tyd ook moet help by die hek om mense in te teken.”

Hoewel rugbyliefhebbers in Bulle-kontrei se aptyt om Loftus toe te kom aansienlik gekwyn het oor die afgelope paar seisoene, sal ’n heeltemal leë stadion ’n aanpassing wees.

SuperSport beplan om “generiese klanke” uit te saai, sodat dit vir die kykers klink of daar wel mense op Loftus is.

“Dit is ’n vreemde gedagte. Dié vier spanne speel en daar is nie ’n mens in die paviljoene nie.

“Maar ja, dit is vreemde tye,” sê Kemp.

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.