SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Vrees vir Fikile Mbalula red Allister Coetzee

Vrees vir politici, asook finan­siële oorwegings, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) laat besluit om Allister Coetzee as Springbok-afrigter te behou.

Allister Coetzee

Hoewel Saru nog nie sy besluit oor die Bok-breier amptelik bekend gemaak het nie, is dit gister deur hooggeplaaste bronne bevestig.

Daar was vroeër vandeesweek op ’n vergadering van Saru se uitvoerende raad glo diep verdeeldheid oor Coetzee se pos.

Uit een hoek is sterk aangevoer dat dit Fikile Mbalula, minister van sport, sal omkrap indien Coetzee gepos word.

Saru het Mbalula se seën nodig om ’n bod vir 2023 se Wêreldbeker-rugbytoernooi te kan indien.

Aan die ander kant was daar beamptes wat wou hê dat Rassie Erasmus, Saru se voormalige hoof van rugby, teruggelok moet word as Bok-breier.

Erasmus het verlede jaar by Saru bedank om ’n pos as direkteur van rugby by Munster in Ierland te aanvaar.

Dit sal Saru glo ook R13 miljoen kos indien hy Coetzee se kontrak moet uitbetaal – ’n yslike bedrag in die lig van rugby se kwynende inkomste aan borgskappe.

Die besluit oor Coetzee sal na verwagting ná Junie se reeks van drie toetse teen Frankryk in heroënskou geneem word. Wen die Bokke, sal die Bok-breier weer kan asem skep. ’n Reeks­nederlaag sal Saru egter opnuut met ’n tameletjie laat.

Franco Smith, wat vir November se toer na die Noordelike Halfrond in ’n deeltydse rol betrek is, sal na verwagting voortaan die Bokke se agterlyn brei.

Fikile Mbalula. Gallo Images

Dis ook welbekend dat Coetzee hoop om die oud-Bok-senter Brendan Venter te betrek. Venter is reeds ’n verdedigingskonsultant vir Italië, maar dit is nie ’n heeltydse betrekking nie.

Die Bokke behoort vanjaar beter voorbereid te wees as verlede jaar.

Coetzee is eers in April aangestel, wat hom bitter min tyd gegee het om behoorlik vir die seisoen voor te berei.

Nóg ’n faktor wat die dobbelstene teen die Bok-breier gelaai het, is onervarenheid en ’n gebrek aan kennis in sy afrigtingspan.

Dit is vir November se toer na die Noordelike Halfrond getakel deur die deeltydse aanstellings van Smith en JP Ferreira, die Leeus se verdedigingsafrigter.

Die Bokke het nogtans al drie hul toetse – teen Engeland, Italië en Wallis – verloor. Hul rekord vir verlede jaar was vier oorwinnings en agt nederlae.

Andy Colquhoun, Saru se hoof van korporatiewe aangeleenthede, het gesê die besluite oor die Bok-breier sal eers bekend gemaak word wanneer al die prosesse afgehandel is.

Meer oor:  Bokke  |  Allister Coetzee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.