Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrese bewaarheid: Pollard lank uit
Handré Pollard, Springbok-losskakel, sak verlede jaar in Wellington op die All Black Beauden Barrett toe in dié spanne se toets in die Rugbykampioenskap. Albei spelers kan afwesig wees as die kampioenskap later vanjaar in Australië gehou word. Foto: Getty Images

Die tyding Maandag uit Frankryk oor die Springbok-losskakel Handré Pollard se kniebesering was droewig.

Montpellier het in ’n verklaring bevestig Pollard het Vrydagaand in Parys ’n kruisligament geskeur en sal “verskeie maande” nie kan speel nie.

Die hersteltyd vir soortgelyke beserings is, indien ’n operasie nodig is, enigiets tussen ses en nege maande.

Dit beteken die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, sal sy termyn onder meer sonder sy nommereen-losskakel begin, sou die Springbokke wel later vanjaar aan die Rugbykampioenskap deelneem.

RG Snyman (Getty Images)
RG Snyman (Getty Images)

Nienaber moes ook reeds die nuus verwerk dat hy sonder die slot RG Snyman sal wees, terwyl Lood de Jager en Eben Etzebeth se beskikbaarheid ook nog nie seker is nie.

Sanzaar het Vrydag bekend gemaak die jongste plan is dat dié kampioenskap van 7 November tot 12 Desember in Australië beslis word.

Of die kampioenskap wel gaan realiseer, is allesbehalwe ’n uitgemaakte saak.

Die All Blacks kan straks sonder ’n paar sleutelspelers wees weens die kwarantynvereistes in Australië.

Volgens mediaberigte kan dit die losskakels Beauden Barrett en Richie Mo’unga insluit.

Die besoekende spanne, die All Blacks, Springbokke en die Poemas, sal, buiten die ses weke wat die kompetisie sal duur, ook altesame vier weke in kwarantyn moet deurbring.

Verskeie All Blacks is glo huiwerig om so lank van die huis af weg te wees.

Volgens RNZ sien nie Barrett of Mo’unga glo kans om sowat tien weke van hulle gesinne weg te wees nie.

Mo’unga het verlede maand vir die eerste keer pa geword en die Barretts se eersteling word binne die volgende maand verwag.

Die twee weke se kwarantyn in Nieu-Seeland ná die kampioenskap, sal beteken dat die spelers nie Kersfees saam met hulle geliefdes kan deurbring nie.

Ons ondersteun ons spelers ten volle, ons weet hulle is deur ’n ongelooflik moeilike tyd vanjaar.
Mark Robinson

Mark Robinson, uitvoerende hoof van Nieu-Seeland Rugby (NZR), het reeds gesê spelers “sal ondersteun word” as hulle verkies om weens gesondheids- of persoonlike redes nie na Australië te reis nie.

“Ons ondersteun ons spelers ten volle, ons weet hulle is deur ’n ongelooflik moeilike tyd vanjaar.

“Hierdie uitdaging sal omvangryk wees en ons steun hulle en hul families onvoorwaardelik,” het Robinson gesê.

Maar, Rob Nichol, hoof van Nieu-Seeland se spelersvereniging, sê hy sal verras wees as daar spelers is wat reeds hieroor besluit het.

“Ek twyfel sterk, want hulle weet daar moet nog baie besonderhede uitgepluis word voordat ons presies weet wat die kampioenskap behels,” het Nichol aan stuff.co.nz gesê.

TJ Perenara. Foto: Getty Images.

Nietemin word die name van ander All Blacks soos TJ Perenara (skrumskakel) en Sevu Reece (vleuel), wat glo ook sal verkies om in Nieu-Seeland agter te bly, genoem.

Dit kan meebring dat Ian Foster, wat ná die Wêreldbeker-toernooi by Steve Hansen as All Black-hoofafrigter oorgeneem het, ook met ’n verswakte span in Australië kan aankom.

Die All Black-haker Codie Taylor het die afgelope Vrydag, ná Canterbury se sege oor North Harbour in die Kiwi’s se provinsiale reeks, gesê dit sal “taai” wees om so lank van die huis af weg te wees.

“Die All Black-omgewing is soos ’n tuiste, maar dit sal beslis moeilik wees om so lank van die familie en kinders weg te wees.” – Reuters, rugbypass.com

Meer oor:  Handre Pollad  |  Eben Etzebeth  |  Rg Snyman  |  Montpellier  |  Frankryk  |  Suid-Afrika  |  Nieu-Seeland  |  Nege Maande  |  Losskakel  |  Rugby  |  Kruisligament  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.