Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Vrouerugby het eie rolmodelle nodig’

Toe die Springbok-vrouerugbyspeler Mathrin Simmers begin rugby speel het, was Jean de Villiers haar rolmodel. Tog voel sy dit is belangrik dat jong meisiespelers vroue as rolmodelle moet hê.

Mathrin Simmers sit voet in die hoek in ’n wedstryd tussen Suid-Afrika se nasionale vrouesewesspan en sy eweknie van Nieu-Seeland in die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Foto: Gallo Images

Die ervare Simmers (33) is ’n skrumskakel in die langer weergawe van die spel en het ook al die nasionale vrouesewesspan verteenwoordig.

Maar as kind in Knysna was daar nie ’n rugbyklub vir vroue nie en Simmers en ’n paar van haar vriende het besluit om hul eie een op die been te bring.

In Suid-Afrika, vergeleke met die toonaangewende lande, staan vrouerugby eintlik maar nog in sy babaskoene. Spelers wat vir die Bok-vrouespan uitdraf, is grootliks onbekend.

Dit is seker dan nie verbasend nie dat meisies wat dit oorweeg om rugby te speel nie baie rolmodelle het om te bewonder nie.

Ek dink dit is baie belangrik vir meisies om vroue te hê as rugbyhelde.

“Ek dink as ons vrouerugby op die voorgrond wil plaas, is dit nodig dat ons meer borge kry. Ook moet daar meer blootstelling wees as ons wedstryde speel,” sê Simmers.

“Toe ek baie jonger was, was my rolmodel Jean de Villiers (die voormalige Bok-kaptein). Hy was ’n baie goeie senter en toe ek begin rugby speel het, was ek ook ’n senter.

“Dit was vir my baie lekker om te sien hoe goed hy is en ek het gehoop dat ek ook dalk eendag so goed soos hy kan wees.

“Ek dink dit is baie belangrik vir meisies om vroue te hê as rugbyhelde. Toe ek grootgeword het, het ons dit nie gehad nie. Nou kan hulle (jong spelers) van ’n baie vroeë ouderdom af rugby speel.”

Simmers is lid van ’n oefengroep spelers wat sedert Januarie in Stellenbosch voorberei vir die Wêreldbeker-toernooi vir vroue, wat later vanjaar in Nieu-Seeland sou plaasgevind het.

Wêreldrugby het verlede week aangekondig dat hy van voorneme is om dié toernooi te midde van die Covid-19-pandemie tot 2022 uit te stel. ’n Aankondiging oor die nuwe datum vir die toernooi word vandeesweek verwag.

Eloise Webb (in wit) in aksie in die Kaapstad-sewestoernooi in 2019. Sy het die nasionale vrouespan al in albei formate van die spel verteenwoordig. Foto: Gallo Images

Tog sal die baadjiedraers by die internasionale rugbybeheerliggaam mooi moet dink oor wanneer die toernooi moet plaasvind.

Die rugbykalender vir vroue in 2022 is reeds propvol. Ter plaatse sal die nasionale vrouesewesspan hoop om aanstaande jaar onder meer in die Statebondspele en Wêreldbeker-sewestoernooi (vir mans en vroue, word in Kaapstad aangebied) in aksie te wees.

Maar spanne moet kwalifiseer om aan daardie toernooie deel te neem.

Spelers soos Simmers, Lusanda Dumke, Zenay Jordaan, Nadine Roos en Eloise Webb, wat almal tans in Stellenbosch oefen, het ook al die land se vrouesewesspan verteenwoordig.

Die Wêreldbeker was vanjaar die hooffokus vir vrouerugby in Suid-Afrika. Nie net het 2022 ’n vol kalender nie, die vraag is ook op watter formaat aanstaande jaar gefokus moet word indien die Wêreldbeker wel dan plaasvind.

Ook: Het Suid-Afrika tans genoeg vrouespelers om in albei formate mededingend te kan wees?

Antwoorde op hierdie vrae en ’n duidelike padkaart vir die pad vorentoe kan vrouerugby sy regmatige plek in die land laat inneem.

Dit sal jong meisies wat van rugby droom rolmodelle gee om na op te sien, wat die spel se groei op plaaslike bodem momentum kan gee.

Meer oor:  Vrouerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.