Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrouerugby nie ‘ernstig’ opgeneem
Suid-Afrika se Nadine Roos Vrydag in aksie teen Nieu-Seeland. Foto: Gallo Images

Voordat daar nie ’n duidelike plan en genoegsame finansiële ondersteuning vir die Suid-Afrikaanse vroue-sewesrugbyspan beskikbaar is nie, sal hy sukkel om hond haaraf te maak teen die topspanne in die wêreld.

Dít is die afgelope naweek onderstreep toe die Imbokodo, soos die span bekend staan, die Kaapstad-sewestoernooi segeloos afgesluit het. Die enigste rede hoekom hulle deelgeneem het, is omdat Suid-Afrika die gasheer was.

Dat die ander spanne hulle meerdere is, was duidelik. Tog het ’n speler soos Nadine Roos onderstreep dat daar beslis talentvolle spelers in Suid-Afrika is.

Die Imbokodo was laas in die 2014/’15-seisoen ’n “kernspan” (permanente lid) van Wêreldrugby se sewesreeks. Sedertdien kry hulle nou en dan die geleentheid om as ’n uitnodigingspan aan ’n toernooi hier en daar deel te neem.

As jy mededingend wil wees, is dit absoluut noodsaaklik dat jy gereeld teen die wêreld se voorste spanne speel.

Paul Delport, afrigter van Suid-Afrika, het ná sy span se laaste wedstryd Sondag teen Spanje nie doekies omgedraai nie.

“Daar is geen regtige plan nie. So dit gaan moeilik wees (om mededingend te wees), maar wat ons vanjaar goed gedoen het, is om ’n paar talentvolle meisies te identifiseer. Hulle het goed vertoon die naweek.

“Hopelik kan ons die intensiteit van hierdie wedstryde onthou en ook die lesse wat ons hier geleer het. By die kwalifiserende toernooi (om ’n kernspan in die reeks te word) sal die standaard nie so hoog wees nie, so hopelik sal ons van die basiese foute wat ons hier gemaak het, nie weer herhaal nie,” sê Delport.

Daar is egter ook ’n ander struikelblok vir die Imbokodo, veral wat betref om meer meisies te kry wat die sport wil beoefen. In baie gemeenskappe in Suid-Afrika word rugby nie met vroulikheid vereenselwig nie.

Tog is die vroue luidkeels die afgelope naweek deur toeskouers in die Moederstad ondersteun. Delport hoop dat dit persepsies kan help verander.

Paul Delport, afrigter van die Suid-Afrikaanse vroue-sewesspan. Foto: Gallo Images

“Vrouerugby word nie ernstig opgeneem in die land nie. Hopelik kan dit in die toekoms verbeter.

“Wat die meisies hierdie naweek gewys het – om as ’n uitnodigingspan deel te neem en bo twee kernspanne klaar te maak (die Imbokodo het tiende uit 12 spanne geëindig) – wys dat ons baie goed gespeel het.

“Maar die basiese feit bly staan, as daar nie enige belegging gaan wees nie, gaan ons nie beter word nie. As jy hierdie ander spanne met ons vergelyk, hulle stelsels ensovoorts, is ons baie ver agter hulle,” sê Delport.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee het die afgelope tyd onder geweldige kritiek deurgeloop vir sy besluit dat hy nie die Imbokodo na 2020 se Olimpiese Spele gaan stuur nie. Dit ten spyte daarvan dat Suid-Afrika as Afrika-kampioen gekwalifiseer het om deel te neem.

Maar sou Suid-Afrika regtig daar mededingend kan wees? Dalk moet daarop gefokus word om ’n kernspan te word en moet die visier dan gestel word op die Spele in 2024 in Parys, Frankryk.

* Die rekords het intussen behoorlik gespat met die vroue se kompetisie wat die eerste keer deel van die Kaapstad-toernooi was.

Altesaam 385 drieë is in die mans- en vrouetoernooie aangeteken teenoor 297 wat in 2018 gedruk is.

Dit was ook die eerste keer dat die toernooi oor drie dae beslis is, met 119 529 mense wat deur die hekke is. Daar was Vrydag 11 113, Saterdag 52 612 en Sondag 55 804 mense in die stadion.

Verlede jaar was daar 107 905 toeskouers teenwoordig, terwyl daar in 2017 115 396 mense deur die hekke is.

Wat drieë betref het Frankryk se vrouespan die meeste van alle spanne (mans ingesluit) gedruk. Hulle het 26 keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl die Imbokodo vier drieë gedruk het.

Meer oor:  Paul Delport  |  Sewes  |  Blitsbokke  |  Imbokodo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.