Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrydag is D-dag vir SA rugbyunies

Een van die groot vrae waarmee ringkoppe by die land se rugbyunies worstel, is wanneer borge te midde van die Covid-19-pandemie, wat alle bedrywighede op ys gesit het, kop gaan uittrek.

Die uitvoerende hoofde van die unies vergader Vrydag met ’n taakspan van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).

Die seëvierende Springbokke nadat hulle in 2019 die Wêreldbeker-toernooi gewen het deur Engeland in die eindstryd in Japan te klop. Voor is Faf de Klerk (met die trofee), Makazole Mapimpi en Tendai Mtawarira. Foto: Gallo Images

Dié taakspan bestaan uit onder andere Jurie Roux (dié beheerliggaam se uitvoerende hoof), Piet Heymans (uitvoerende hoof van die vakbond Sport Employees Unite), Eugene Henning (besturende direkteur van die spelersorganisasie MyPlayers) en Barend van Graan (voormalige uitvoerende hoof van die Blou Bul Maatskappy). Hulle het die laaste ruk ondersoek gedoen na aspekte soos die personeelkorps en spelers by unies. Hulle sal Vrydag terugvoering aan die unies gee.

Daar word verneem dat daar twee of drie moontlike opsies op die tafel vir die pad vorentoe is.

Daar is sprake van salarisbesnoeiings, maar ons speel maar die bal soos wat hy kom.

Sou unies se toelae byvoorbeeld gesny word, kan dit die doodsklok laat lui vir klein unies, wat min en klein borge het en grootliks oorleef op wat hulle van Saru ontvang.

Kleiner unies – die wat byvoorbeeld in die Eerste Liga speel – het wel ’n effense voordeel in die sin dat hulle nie regtig begroot vir ’n inkomste uit toeskouers nie omdat hul stadions tydens wedstryde meestal leeg is.

Barend van Graan, voormalige uitvoerende hoof van die Blou Bul Maatskappy. Foto: Gallo Images

Groot unies verloor weer daardie inkomste, maar spaar darem effens deurdat hulle tans nie hoef te betaal vir dinge soos vervoeruitgawes of veiligheid tydens wedstryde nie. Die koronavirus het egter ’n besliste invloed op unies se kontantvloei. Indien rugbybedrywighede vanjaar hervat word, kan die skade minimaal wees, maar indien alle rugby vir die jaar afgelas word, kan die hele bedryf groot skade ly.

Sou toetse wat vir later vanjaar op tuisbodem teen spanne soos Nieu-Seeland en Australië geskeduleer is, gekanselleer moet word, kan dit ’n knou vir Saru se geldkoffers wees – met die unies wat dit gaan voel.

Eugene Henning, uitvoerende hoof van die spelersorganisasie MyPlayers. Foto: Gallo Images

Dit is natuurlik nie ’n unieke situasie in Suid-Afrika nie. Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het die afgelope week byvoorbeeld ’n reddingsboei vir dié land se vyf Superrugby-spanne aangekondig. Net so is Raelene Castle, uitvoerende hoof van die Australiese Rugbyunie, se salaris met 50% gesny en het sy die week spelers in dié land gewaarsku dat ook hulle opofferings sal moet maak.

Pieter Burger, uitvoerende hoof van die Pumas, erken hy het slapelose nagte.

“Ons doen alles in ons vermoë om koste te sny en nie onnodige uitgawes aan te gaan nie. Ek dink die unies wat vanjaar gasheer vir toetse (Suid-Afrika speel op 26 September teen die All Blacks in Mbombela) gaan wees, het die grootste bekommernis omdat hulle nie weet of dit voortgaan of nie,” sê Burger.

“Die groot vraag is natuurlik wanneer borge gaan kop uittrek? Gaan hierdie ding vir ’n maand of so aan, sal hulle waarskynlik by jou staan, maar as dit langer raak kan hulle kop onttrek.”

Ek gaan nie vir jou lieg nie, ek het slapelose nagte en weet dat dinge beslis nie kan aangaan soos nou nie.

Hy sê hy wil half dink die kleiner unies wat basies nie borge het nie en eintlik van Saru afhanklik is vir geld, is in die beste posisie.

“Solank hulle geld kry, sal hulle aangaan,” sê Burger.

“Daar is sprake van salarisbesnoeiings, maar ons speel maar die bal soos wat hy kom. Ek gaan nie vir jou lieg nie, ek het slapelose nagte en weet dat dinge beslis nie kan aangaan soos nou nie.”

Hy besef egter dat niemand dit gespaar gaan word nie.

“Ons ander groot uitdaging is natuurlik nie net om die spelers by hul huise sover te kry om fiks te bly nie, maar ook om hulle gemotiveerd te hou.”

Meer oor:  Eugene Henning  |  Jurie Roux  |  Salarisbesnoeiings  |  Saru  |  Rugby  |  Taakspan  |  Rugbyunies  |  Finansiële Impak  |  Myplayers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.