Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Blitzkrieg ná rustyd laat WP se wiele afkom
Blitzkrieg ná rustyd laat WP se wiele afkom

Die Vrystaat-Cheetahs het gisteraand met ’n mengsel van durf en sprankel-spel in die tweede helfte ’n riller-stryd teen die Westelike Provinsie met 38-33 gewen.

’n Blitzkrieg van vier drieë in die tweede helfte waarop die Streeptruie geen antwoord gehad het nie, het die tuisspan in staat gestel om hulself boaan die puntelys van die Curriebeker-reeks te kry vir ’n tuis-halfeindstryd – iets wat vir groot dele van gister se wedstryd net na ’n droom gelyk het.

Die Cheetahs brul van vreugde nadat hulle WP se laaste, desperate poging gestuit het. Foto: gallo

Daardie droom het werklikheid geword toe die Cheetahs, met sy ervare skrumskakel, Ruan Pienaar, en heelagter, Clayton Blommetjies, aan die spits, die besoekende Kapenaars van hul voete af gespeel het – nogal net toe dit wou lyk of die WP beheer geneem het.

Waaroor John Dobson, WP-afrigter, en sy assistente vandag nog lank sal kopkrap, is hoe hul span ’n voorsprong van 19-0, en toe teen rustyd 26-12, prysgegee het om die wedstryd te verloor. Net die WP se spelers sal weet hoe hulle dit reggekry het.

Hulle het kort ná rustyd gaan druk om die telling 33-12 te maak, maar daarna het die wiele begin afkom vir die besoekers en die Cheetahs het genadeloos en aanhoudend toegeslaan toe die WP skynbaar gedink het die uitslag is al in die sakkie.

Daardie vier drieë deur die Cheetahs wat ná rustyd gedruk is, is wat die Streeptruie gebreek het.

Die Cheetah-haker, Joseph Dweba, duik oor die doellyn.

Dit was puik drieë wat die gebrekkige duikwerk van die WP ontbloot het.

’n Paar keer is verdedigers uitgevang waar hulle te vinnig opgeskiet en hul man heeltemal gemis het.

’n Emosionele Franco Smith, afrigter van die Cheetahs, het ná die wedstryd gesê hy is baie trots op sy span se vertoning.

“Ek is baie trots op die spelers en veral die karakter wat hulle getoon het. Daar was ’n honger onder die spelers, ’n wil om te wen en dit was lekker om dit te kon sien,” sê Smith.

Hy sê sy span het teen ’n WP-span met ’n klomp Springbokke gespeel, ’n WP-span wat wemel van ervaring en hulle het tog bo uitgekom.

“Ons het baie goed by ons wedstrydplan gehou. In die tweede helfte was daar ’n verandering in ons fisieke aanslag en dit het gewerk.”

Hy sê ten spyte van wat die doemprofete sê, bly die Curriebeker-reeks ’n baie mededingende een.

Sy kaptein, Tian Meyer, sê die wedstryd was nie so moeilik as wat dit voorgekom het nie.

“Ons het die geloof gehad dat ons dié een sou deurtrek.”

Dobson het geen doekies omgedraai oor die nederlaag van sy span nie.

“Ek dink die Vrystaat was baie goed, veral om terug te kom van ‘n groot agterstand af,” het ’n teleurgestelde Dobson ná die wedstryd gesê.

Hy wou nie betrokke raak by ’n gesprek oor of die twiste agter die skerms by die WP Rugbyunie, ’n negatiewe uitwerking op die span se vertonings gehad het nie.

“Ons moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat op die veld gebeur,” is al wat hy bereid was om te sê.

Die Cheetahs se joligheid het begin toe die vleuels, Tian Meyer en Darren Adonis, en die stut Ox Nche in die tweede helfte oorgeduik het om hul span voor te kry.

Adonis se drie het juis gekom ná swak opskietverdediging, terwyl Meyer danksy goeie samespel ’n puik drie gaan afrond het. Dit het ook nie gehelp dat die WP vrotsig verdedig het in die aanloop tot die drie nie.

Die Cheetahs het welverdiend die bonuspunt-oorwinning behaal om boaan die puntelys te eindig.

  • Punte
Vrystaat-Cheetahs 38 (12): Drieë: William Small-Smith, Joseph Dweba, Tian Meyer, Darren Adonis, Ox Nche, Jasper Wiese. Doelskoppe: Tian Schoeman (4).
WP 33 (26): Drieë: Wilco Louw, Dillyn Leyds, Scarra Ntubeni. Doelskoppe: SP Marais (3). Strafdoele: Marais (4).


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.