Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
VS byt vas ná Smith doelskop verbrou
Clinton Swart was ’n handvol vir die Bulle en hy het die Cheetahs se verdediging goed besig gehou. Hier word hy deur Malcolm Jaer gelak. Foto: Gallo Images

Dit was dalk nie van die aanskoulikste rugby nie, maar die Vrystaat-Cheetahs het Vrydagaand genoeg gedoen om die Bulle met 19-17 te klop nadat hulle met die rustyd met 13-3 voorgeloop het in die spanne se Superrugby Unlocked-wedstryd in Bloemfontein.

Dit is nie asof die Cheetahs weggehardloop het met die Bulle in dié fisieke stryd nie, hulle het net hul kanse om punte aan te teken beter benut.

Maar met 11 minute se speeltyd oor en ’n suksesvolle strafdoel deur die Bulle se plaasvervanger-losskakel, Chris Smith, moes die Cheetahs met die telling op 19-12 behoorlik begin walgooi.

Met ’n minuut se speeltyd oor het die Bulle se plaasvervanger-haker, Joe van Zyl, gaan druk, maar Smith kon nie die doelskop deur die pale jaag om ’n gelykopuitslag af te dwing nie. Die skop het links verby die regoppaal getrek.

Die Cheetahs se verdediging van die Curriebekertitel is egter ’n gevoelige slag toegedien toe hul kaptein, Ruan Pienaar, se seisoen deur ’n kniebesering beëindig is.

Boonop is die Springbok-veteraan, die Bulle se heelagter Gio Aplon, ná vyf minute se speeltyd ook met ’n kniebesering van die veld. Pienaar het die veld ná 15 minute verlaat.

Aplon se wedstryd is deur ’n duikslag van Clayton Blommetjies (in sy 100ste wedstryd) kortgeknip en Marco van Staden het ’n einde aan Pienaar se seisoen gemaak.

Vir ’n halfuur was daar min tussen die span te kies in ’n wedstryd wat teen ’n geweldige tempo begin is.

Behalwe vir die duikslag op Pienaar uit ’n onkantposisie, was Van Staden een van beter spelers op die veld vir die Bulle.

Dit was egter Rosko Specman, die Cheetah-vleuel, wat eerste die kalklyn oorgesteek het ná ’n goed geoefende bewing tussen hom en Malcolm Jaer, net soos verlede week teen die Pumas.

Dit was sy derde drie in die plaaslike kompetisie.

Die Bulle het in die eerste helfte goed gelyk op die aanval met die senter Clinton Swart wat ’n paar sterk lopies ingekry het. Hy het die Cheetahs se verdediging meer as een keer behoorlik getoets.

Vir die tuisspan het die flank Andisa Ntsila weer inklimspel gelewer en Reinach Venter (haker) was oral op die veld.

Dit was egter die Cheetahs se breker-agtsteman, Jasper Wiese, wat vir sy uithalervertoning as die Speler van die Wedstryd beloon is.

Daar was heelwat ongedwonge foute deur albei spanne.

. Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs 19 (13): Drie: Rosko Specman. Doelskoppe: Tiaan Schoeman. Strafdoele: Schoeman (4).

Bulle 17 (3): Drieë: Joe van Zyl. Strafdoele: Morné Steyn (3), Chris Smith.

Meer oor:  Vrystaat  |  Blou Bulle  |  Superrugby Unlocked  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.