Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrystaat hoop op 2 toetse in 2021

Dit lyk al meer belowend dat Vrystaters hulle in 2021 vir die eerste keer in byna drie jaar weer vir plaaslike toetsrugby kan regskuif.

Die kans is ook nie uitgesluit dat die Springbokke weer Bloemfontein as basis gaan gebruik vir een van die laaste paar jaar se groot rugby-kragmetings nie.

Harold Verster, besturende direkteur van die Vrystaatse Cheetahs, sê daar is sterk aanduidings dat die Britse en Ierse Leeus-toer goeie geleenthede vir die Cheetahs sal bied, maar die bal oor ’n finale besluit is in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se hande.

“Vrystaat-rugby sal uiteraard verheug wees om ’n slag weer gasheer vir ’n internasionale wedstryd te speel, des te meer omdat Bloemfontein die afgelope nege jaar slegs twee uit die 42 toetse wat in Suid-Afrika gespeel is, aangebied het,” sê Verster.

Die laaste toetswedstryd in Bloemfontein was in 2018 toe die Springbokke Engeland met 23-12 in die tweede toets van daardie reeks geklop het.

Die Cheetahs het tydens ’n vorige toer van die Britse en Ierse Leeus in ’n weekwedstryd teen die span gespeel.

Verster sê weens omstandighede sal so ’n wedstryd nie tydens die 2021-toer plaasvind nie.

Harold Verster Foto: Argief

In 2009 het die Vrystaat die Britse Leeus skrikgemaak toe hulle met slegs 24-26 verloor het.

Rapport het vroeër berig twee wedstryde en ’n oefenkamp in Bloemfontein word as deel van SA Rugby se beplanning vir volgende jaar se Bok-wedstryde voor die besoek van die Britse en Ierse Leeus oorweeg.

Die Argentynse Poemas, wat die All Blacks Saterdag vir die eerste keer nog met 25-15 geklop het, asook ’n Britse Barbarian-span is onder die moontlike teenstanders vir die Springbokke se wedstryde in Bloemfontein volgende jaar.

Bloemfontein is al telkens as basiskamp vir die Bok-span gebruik omdat dit sentraal is en volgens afrigters min dinge het wat die spelers se aandag kan aftrek.

Die Britse en Ierse Leeus se Suid-Afrikaanse toer begin op 3 Julie in die Kaap teen die Stormers. Die eerste toets is op 24 Julie in Johannesburg.

“Ons het goeie moed dat internasionale wedstryde wel in die vooruitsig gestel word en sal dit verwelkom.

“Die Britse en Ierse Leeu-toer is baie gewild, maar daar is ook ander moontlike geleenthede vir die Vrystaat,” sê Verster.

• Donderdag sal die direksie van die Vrystaat Cheetahs vergader om die toekoms van die unie en die span te bespreek.

Na verneem word, sal regsoptrede die laaste opsie wees nadat die span sy plek in die vergrote Pro-reeks verloor het.

Die unie het Woensdag in ’n verklaring die voorstel verwelkom van Toyota wat wil hê promosie-en-relegasie-wedstryde moet deel wees van die kriteria om te bepaal watter Suid-Afrikaanse-spanne in die Pro-reeks moet meeding.

“As die Cheetahs nie die mas daar opkom nie, sal ons dit so aanvaar,” lui die verklaring.

“Ten minste sal billikheid en geregtigheid dan seëvier en dit die voortgesette ontwikkeling van die vyf groot franchises verseker.”

Meer oor:  Harold Verster  |  Toetsrugby  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.