Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrystaat hou asem op oor Ox Nche

Die Vrystaat-Cheetahs se goeie sege oor die Blou Bulle Vrydagaand op Loftus Versfeld het dalk teen ’n duur prys gekom.

Die span hou asem op oor Ox Nche, een van die span se helde aan die spits van die skrumles wat die Ligbloues geleer is.

Die Springbok-stut het krampe gehad en dit lyk of dit meer ernstig is as wat aanvanklik  vermoed is.

Die Vrystaat-afrigter, Franco Smith, sê hulle sal moet wag om te sien wat die skanderings oplewer voordat daar enige besluite oor Nche geneem word. Hy is vol vertroue dat dié bielie beskikbaar is vir die span se eerste tuiswedstryd Saterdag teen Griekwas.

Smith was na sy span se skittersege met 43-27 dankbaar vir die goeie begin in hulle Curriebeker-veldtog, maar maan dat hulle plat op die aarde moet bly.

“Ons moet nie te veel lees in die begin (van die reeks) nie. Ek dink daar was goeie goed, 'n goeie ingesteldheid, maar nog baie water moet in die see loop. Ek is baie bly vir die oorwinning, maar is teleurgesteld in die drieë wat ons afgestaan het en sal daaraan moet werk.

“Ek dink nie ons aanvalswerk was nie heeltemaal so akkuraat soos ons dit wou hê nie. Wat wel goed was, was ons verdediging en ons het goed gelyk sonder die bal. Ons pak voorspelers het goed gedryf,” het Smith gesê.

Gepraat van die pak voorspelers, hulle het die Bulle in veral die eerste helfte behoorlik laat sweet in die skrums. ’n Speler soos Nche en die agtsteman Henco Venter was dorings in die vlees van die Bulle.

Ox Nche, stut van die Vrystaat-Cheetahs, was op sy allerbeste teen die Blou Bulle Vrydagaand in Pretoria.Foto: Gallo Images

Smith is bekend daarvoor dat hy nie spelers uitsonder nie, maar het saamgestem dat Nche en Venter – en nog ’n paar spelers – meer as hulle kant gebring het.

“Daar was ’n klomp spelers wat goed rekenskap van hulself gegee het en dis die harde werk (van die voorseisoen) wat nou vrugte afwerp. Maar die week gaan ’n taai wedstryd wees teen Griekwas wat weer gewen het.”

Die Blou Bulle se breier, Pote Human, het geen doekies omgedraai oor sy span se vertoning nie, en het gesê die nederlaag gaan dit vir hulle moeilik maak om tot die halfeindronde deur te dring.

“Ons het karakter gewys om te veg vir daardie bonuspunt teen die einde.

“Maar, die skrumwerk is beslis groot rede tot kommer. Ons het wel later in die wedstryd al beter geskrum en sal net aanhou om hard te werk aan die aspek,” het Human gesê.

Dit is nie sommer elke dag dat besoekers aan Fort Loftus met ’n oorwinning wegstap en boonop ses drieë inryg nie. Human en sy span weet dit en daarom maak die nederlaag des te meer seer.

“Die nederlaag op Loftus is baie sleg en ons is nou onder groot druk om die halfeindstryd te haal. Ek het vertroue in die spelers om dit om te draai, maar dit gaan ’n groot poging van almal verg.”

Die Bulle kom Vrydag die Pumas in Mbombela te staan en ná albei die spanne hulle eerste twee wedstryde verloor het sal hulle oorgehaal vir ’n eerste oorwinning wees.

Meer oor:  Blou Bulle  |  Cheetahs  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Ox Nche  |  Curriebeker  |  Loftus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.