Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wéér trane vir die Blou Bulle in Curriebeker

Die Vrystaat-Cheetahs het Vrydagaand gewys hulle het ’n veel meer mededingende Curriebeker-groep as verlede jaar, toe hulle die Blou Bulle in Pretoria met 43-27 bloedneus geslaan het.

henco venter
Die Vrystaat se agtsteman, Henco Venter, val oor vir sy drie, met die Bulle se flank Ruan Steenkamp wat te laat is om hom te keer. Foto: Gallo Images

Die Bloemfonteiners was rustyd reeds met 22-12 voor en het ses drieë teenoor die Bulle se vyf gedruk.

Vir Bul-ondersteuners sal dié nederlaag veral pynlik wees omdat dit hul span ná twee weke van die kompetisie steeds segeloos laat. Die Pretorianers het verlede week met 20-5 teen die ou vyand, die WP, die spit afgebyt. 

Vrydagaand was hulle veral flou in die eerste helfte. Die aandag wat hulle die afgelope tyd aan hul skrumwerk gegee het – ná dit ’n gróót swakpunt teen die WP was – het geen vrugte afgewerp nie.

Dit was veral die Vrystaters se Springbok-stut Ox Nche wat die Bulle se Wiehahn Herbst vroeg in trurat gehad het.

Nche het met sy uithaler-vertoning gewys dat die Springbok-breier Rassie Erasmus nie van hom moet vergeet nie.

Ander Vrystaters wat regmerkies agter hulle name gekry het was die senter Benhard Janse van Rensburg (twee drieë) en ook die agtsteman Henco Venter. Die kaptein en skrumskakel Tian Meyer het self ’n goeie vertoning gelewer.

Die Bulle se Blitsbok Rosko Specman is goed in toom gehou, maar hy het tog in die tweede helfte agter sy ou span se doellyn gaan kuier nadat ’n hy sy lugskoppie opgevolg het. 

Daarby het die Bulle se losskakel Manie Libbok gewys hy is ’n speler met visie wat beslis vorentoe nog groot rugby gaan speel.

Ten spyte van die tuisspan se twee drieë in die laaste twee minute wat aan hulle ’n bonuspunt besorg het, was die Bulle nooit werklik ’n bedreiging vir die Vrystaat nie. Hulle sal die komende week weer aan hul skrumwerk aandag moet gee, want anders gaan dit die langste ses weke nog vir hulle word. 

* Daar word intussen vertroulik verneem dat die vleuel Duncan Saal, hom moontlik by die Cheetahs vir die Pro14-reeks kan aansluit.

Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs 43 (22): Drieë: Henco Venter, Benhard Janse van Rensburg (2), Louis Fouché, Jasper Wiese, Darren Adonis. Doelskoppe: Tian Schoeman (5). Strafdoel: Schoeman.

Blou Bulle 27 (12): Drieë: Cornal Hendricks, Ruan Steenkamp, Rosko Specman, Johan Grobbelaar, Ruan Nortjé. Doelskop: Manie Libbok.

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Vrystaat  |  Bulle  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.