
Louis Fouché word Dinsdag teen die SWD-Arende ingespan op losskakel. Foto: Gallo Images
Die Vrystaat-Cheetahs het beeldmateriaal van wedstryde van die Suidwestelike Distrikte-Arende ontleed en weet nou wat om van hulle in Dinsdag se Curriebeker-promosie-relegasie-wedstryd in Bloemfontein te verwag.
Franco Smith, die Vrystaters se hoofafrigter, sê die besoekende span bevat ook ’n paar spelers wat destyds onder hom gespeel het by die Shimlas. Hulle is die slot Ruben Schoeman, die loskopstut, Theunis Niewoudt, en die flank Nicolaas Immelman.
“Ek ken hul spelers en weet min of meer hoe hulle lyk en wat hulle kan doen.”
Volgens Smith het hy van dié spelers ook sien speel toe die Springbokke verlede jaar teen die SWD geoefen het. Smith was toe nog ’n Bok-hulpafrigter.
Waar die SWD droom van ’n plek onder die land se top-provinsiale spanne, sal die Vrystaat oorgehaal wees om nie bes te gee in dié oorlewingstryd nie. Smith het voorts ook sy span met Pro14-ervaring gelaai.
Ses spelers in Smith se span was Saterdag nog in die beginspan teen die Cardiff Blues.
Die agterlyn lyk veral giftig. Louis Fouché is terug op losskakel en kan spel met sy kanonstewel dikteer.
Charles Marais en Aranos Coetzee begin op stut, met Ox Nche wat later opgestuur kan word.

Tian Meyer (Gallo Images)
Die skrumskakel, Tian Meyer, sal die span aanvoer.
Die Arende se breier, Rynhard van As, sê dis ’n groot geleentheid vir sy span.
Sy boodskap aan hulle is om geen onnodige druk op hulself te plaas nie en die wedstryd te geniet.
“Die senuwees knaag so ’n bietjie, maar dis te verstane.”
Hy sê sy span het hom nog die heeltyd daarop voorberei om teen ’n Vrystaat-span met ’n sterk Pro14-geur te speel.
Ek het vir die spelers gesê as ons na die Premierliga wil opskuif, moet ons bereid wees om teen die bestes te speel.
Rynhard van As
“Ek het vir die spelers gesê as ons na die Premierliga wil opskuif, moet ons bereid wees om teen die bestes te speel.”
Hy het vyf veranderinge, wat twee posisionele skuiwe insluit, aan die beginspan gemaak wat ’n paar weke terug die Eersteliga-eindstryd teen die Valke gewen het.
Die heelagter, Leighton Eksteen, sal die wedstryd weens ’n kuitspierbesering misloop. Hy word deur die regtervleuel Marlo Weich vervang.
Alshaun Bock skuif van linker- na regtervleuel, met Adri Jacobs wat die nr. 11-trui sal dra. Kirsten Heyns is die buitesenter in die plek van Vuyo Mbotho en in die agttal vervang Johannes Janse van Rensburg vir Wynand Grassman.
Die spanne is:
Vrystaat-Cheetahs: Malcolm Jaer, Ali Mgijima, William Small-Smith, Nico Lee, Rabs Maxwane, Louis Fouché, Tian Meyer (k), Junior Pokomela, Abongile Nonkontwana, Niell Jordaan, Dennis Visser, Justin Basson, Aranos Coetzee, Reinach Venter, Charles Marais. PLAASVERVANGERS: Joseph Dweba, Ox Nche, Stephan Malan , Adon Davis, Daniel Maartens, Rudy Paige, Tian Schoeman.
SWD-Arende: Marlo Weich, Alshaun Bock, Kirsten Heyns, Tyler Fisher, Adri Jacobs, Divan Nel, Johannes Steyn, Wayne Wilschut, Nicolaas Immelman, Johannes Stander, Johannes Janse van Rensburg, Ruben Schoeman, Gift Sofisa, Jacques Vermaak (k), Luxolo Koza. PLAASVERVANGERS: Le Roux Baard, Theunis Niewoudt, Dewald Dekker, Brendon Esterhuizen, Reinhardt Stears, Vuyo Mbotho, Ganfield May.
Skeidsregter: Jaco Peyper.
Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs en Ben Crouse.
TV-skeidsregter: JJ Wagner.
Afskop: 17:45 (SS 1, GDN).