Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrystaat gereed om CB te verdedig

Die span wat sy voete die vinnigste vind ná die lang onderbreking weens die Covid-19-pandemie, sal die beste kans staan om suksesvol te wees in vanjaar se Curriebeker-reeks – wanneer dit ook al sal plaasvind.

Tian Meyer systap hier die Goue Leeus se binnesenter, Duncan Matthews, in verlede jaar se Curriebeker-eindstryd in die Toyota-stadion in Bloemfontein. Foto: Gallo Images

So sê die Cheetahs se “klubkaptein” en skrumskakel, Tian Meyer, in die hoop dat daar een of ander tyd klarigheid sal kom oor wanneer die Curriebeker-reeks gaan begin. Die reeks se beplande begin van 1 Augustus is vroeër uitgestel en daar is nog geen sprake van ’n nuwe datum nie.

Die Vrystaat-Cheetahs is die verdedigende kampioen nadat hulle die Goue Leeus verlede seisoen in Bloemfontein met 31-28 die loef afgesteek het in die eindstryd, en, sê Meyer, hulle brand om hul titel te verdedig.

“Ja, ons almal kan nie wag om te speel nie. Maar daar is nog heelwat goed wat moet gebeur voordat ons op die veld kan uitdraf. Ons sal nou vir eers nog op ons eie oefen en is nog baie beperk met wat ons mag en nie mag doen nie,” sê Meyer.

Hy sê hoe graag hulle ook al op die veld wil kom, verstaan hulle watter uitwerking die Covid-19-pandemie op nie net rugby het nie, maar alle sportsoorte wêreldwyd.

“Ons moet seker maak al die spelers en hul gesinne en uitgebreide families bly gesond.”

Heelwat spelers het intussen by die Vrystaat aangesluit en daar is nog ’n paar op pad om hulle meer slaankrag te gee en dít kan net goed wees vir Vrystaat-rugby.

Die eerste prioriteit sal wees om die Curriebeker suksesvol te verdedig en dan wag daar ook nog die begin van die nuwe Pro14-seisoen. Wanneer dít sal gebeur, is ook nog onduidelik.

Met die nuwe spelers wat by die Cheetahs aangesluit het – sommiges vorige staatmakers en dan ook ’n paar nuwes – kan dit meebring dat die mededinging om plekke in Hawies Fourie (hoofafrigter) se eerste span sedert die opskorting van rugby vroeër vanjaar besonder intens sal wees.

“Ons is ’n goeie groep spelers bymekaar en ek is daarvan oortuig dat die spelers mekaar behoorlik sal druk vir plekke. Ons bevind ons in ’n baie mededingende omgewing en dis hoe dit moet wees,” sê Meyer.

• Intussen het die vlugvoetige vleuel Rosko Specman vandeesweek by sy nuwe werkgewer aangemeld nadat hy onlangs ’n kontrak van twee jaar met die Bloemfonteinse franchise gesluit het. Dié Blitsbok was nie deel van Jake White (hoofafrigter van die Bulle) se toekomsplanne nie.

Daar is intussen ook sprake dat nog ’n spoedvraat van die Vrystaat, die veelsydige agterspeler Darren Adonis, wat hom tans by die nasionale sewesakademie in Stellenbosch bevind, ook beskikbaar sal wees om vir die Cheetahs in die Curriebeker-reeks te speel. Volgens hom is ’n finale besluit hieroor nog nie geneem nie.

Meer oor:  Vrystaat  |  Tian Meyer  |  Rosko Specman  |  Covid-19  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.