Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vrystaat se Kings-aanwinste op hul pos

Albei is gaande oor die soort rugby wat die Vrystaat-Cheetahs speel en is bereid om nou te werk vir ’n plek in die beginspan.

Makazole Mapimpi. Foto: Mlungisi Louw

So sê die vleuel Makazole Mapimpi (26) en die heelagter Malcolm Jaer (22), wat Maandag amptelik by die Vrystaat ingeval het en die eerste keer saam met die verdedigende kampioen van die Curriebeker (CB) begin oefen het.

Albei het twee weke gelede nog vir die Southern Kings teen die Cheetahs in dié spanne se laaste Superrugby-wedstryd in Port Elizabeth uitgedraf. Die Cheetahs het dié stryd met 21-20 gewen.

“Ek hou van die soort rugby wat die Vrystaat speel en die besluit om na hulle te kom was glad nie ’n moeilike een nie. Met al die onsekerheid wat by die Kings geheers het en die feit dat ek graag Curriebeker-rugby wou speel, sien ek uit na my tyd by die Vrystaat,” sê Mapimpi.

Hy was met 11 drieë die Kings se voorste driedrukker in die afgelope Superrugby-reeks en is met ’n plek in die Suid-Afrikaanse A-span beloon.

Hy wou egter nie sy moontlike deelname aan volgende jaar se Superreeks vir die Haaie bevestig nie.

Die feit hy sake sal moet uitspook met die Springbok-vleuel Raymond Rhule vir ’n plek in die beginspan, pla hom ook nie juis nie.

“Ek is onder geen druk om ’n plek in die span te kry nie. Wat die mededinging met ’n speler soos Raymond betref, glo ek in myself en het ek vertroue in my vermoëns.

“Die Vrystaat het verlede jaar die Curriebeker-reeks gewen en ek wil dit vanjaar saam met hulle wen, so ek sal hard werk vir my plek,” sê die linkervleuel.

Malcolm Jaer. Foto: Mlungisi Louw

Jaer, wat ’n kontrak tot aan die einde van Oktober volgende jaar onderteken het, moet sake uitspook met Clayton Blommetjies en Cecil Afrika, die ander twee heelagters in die groep.

“Ek glo mededinging maak van jou ’n beter speler en mens. Ek sien uit na die uitdaging. Ek wou ook graag Curriebeker-rugby speel en die Vrystaat speel die soort rugby waarvan ek hou en het daarom op hulle besluit nadat my kontrak by die Kings tot ’n einde gekom het,” sê Jaer.

Hy sê hy sien uit na iets nuuts by die Vrystaat, veral omdat hy sy hele loopbaan nog sy rugby by die Kings gespeel het.

“Ek wil ’n positiewe bydrae tot die span maak as ek speelkans kry. Ek besef dit gaan nie maklik wees om net in die span in te stap nie. Daarom gaan ek hard werk om daardie bydrae te kan maak wanneer ek speelkans kry.”

Intussen het vyf spelers van die Vrystaat hulle Maandag by die Springbokke se kondisioneringskamp in Stellenbosch aangemeld. Hulle is Uzair Cassiem, Ox Nche, Oupa Mohoje, Francois Venter en Rhule.

Die Vrystaat kom Sondag in Bloemfontein teen die Westelike Provinsie in hul tweede wedstryd in die CB-reeks te staan.

Meer oor:  Curriebeker  |  Makazole Mapimpi  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Kings  |  Malcolm Jaer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.