Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Voorreg om teen Duane te speel’

“Die stres is maar daar, maar ek sien meestal uit, dis ’n droom en ’n mens moet dit nou net gaan uitleef.”

George Cronjé in die kleure van Grey-kollege. Foto: Gallo Images

So sê die jong losvoorspeler George Cronjé oor sy moontlike Curriebeker-buiging as ’n 19-jarige rugbyspeler Saterdag op Loftus Versfeld.

Die tiener is ingesluit as plaasvervanger vir die Vrystaat-Cheetahs, wat hul Curriebeker-veldtog Saterdag daar teen die Blou Bulle begin.

Die voormalige SA Skolekaptein beskou dit as ’n groot voorreg om op so ’n jong ouderdom reeds die geleentheid te kry. Hy sien uit om alles in te neem en te stoor, dis ’n herinnering wat hy vir altyd wil koester.

Verder wil hy net op die veld gaan en dit gaan geniet en sy beste gee vir die span sou hy speelkans kry.

Hulle laat ’n mens so gemaklik voel, maar ’n mens het steeds respek en ken jou plek, maar tussen daardie vier wit lyne is daar nie tyd vir ‘oom’ sê nie.
George Cronjé

Hy sou, as hy kon kies, eerder sy buiging in Bloemfontein wou maak.

“Dis net ’n lekker gevoel om te weet ek kan my buiging maak. Die lekkerste sou gewees het om dit hier in die Toyota-stadion te doen, maar dit is wat dit is en ek sien uit om ’n kans te kry om miskien op Loftus te speel,” sê Cronjé.

Hy kry dalk nou ook die kans om saam met iemand soos die Springbok Duane Vermeulen die losbal te jaag.

“Dis ’n groot voorreg om teen ouens soos Duane te kan speel, wat al so baie bereik het in sy loopbaan.”

Jan-Hendrik Wessels vroeër vanjaar vir die Bulle se o.21-span teen hul eweknieë van die Haaie in aksie. Hy is Saterdag op die Blou Bulle se plaasvervangersbank vir die Curriebeker-stryd teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Spelers soos die Vrystaat se Heinrich Brüssow en Juan Smith was kleintyd sy rugbyhelde. Later op hoërskool het hy opgekyk na spelers soos Engeland se Sam Underhill en Tom Curry en die Iere se Peter O’Mahony, wat werktempo betref.

Dié woelwater, wat verlede jaar nog vir Grey-kollege aangevoer het, het ná ’n draai by die Franse klubspan Clermont op 1 Julie by die Cheetahs aangesluit.

Het hy aanvanklik van sy spanmaats, waarvan sommige 36 jaar oud is, as “oom” aangespreek?

“Die mense by Vrystaat het my so laat welkom voel, ek het almal op hul name genoem, want ek speel saam met hulle en alles. Hulle laat ’n mens so gemaklik voel, maar ’n mens het steeds respek en ken jou plek, maar tussen daardie vier wit lyne is daar nie tyd vir ‘oom’ sê nie.”

Die Blou Bulle het intussen sy groot vriend Jan-Hendrik Wessels, ’n stut, ook as ’n plaasvervanger gekies.

Wessels was vanjaar saam met hom by Clermont.

Dié vinnige opgang is nie iets wat hy en Wessels hulle verlede jaar op die skoolbanke by Grey-kollege kon voorstel nie.

“Nee, jis, dis soos ’n droom. Ek is baie bly vir hom.

Ons het dit nooit kon dink nie. Ek dink as ons dit perfek wou hê, sou ons saamgespeel het, maar dié is net so goed.”

Meer oor:  Pretoria  |  Cheetahs  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.