Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
VS fokus op WP eerder as halfeindstryd

Die senuwees het geknaag, maar dis nou iets van die verlede en die Vrystaat-Cheetahs kan nou fokus op wat Saterdag in Bloemfontein gedoen moet word.

So sê die breier, Franco Smith, nadat sy span ’n uithaler- tweede helfte teen die Pumas Saterdag in Mbombela gelewer het om die Curriebeker-wedstryd met 43-37 te wen.

Benhard Janse van Rensburg gaan oor vir die eerste van sy twee drieë teen die Pumas Saterdag in Mbombela. Foto: Gallo Images

Dit was ’n goeie vertoning, en hoewel ’n paar foute gemaak is, sal die Vrystaat dit in sy laaste groepwedstryd teen die Westelike Provinsie wil regstel.

Die Vrystaat se ses drieë teenoor die Pumas se vyf was teen die einde die deurslaggewende faktor.

“Ons het goed gelyk met die bal in die hand en daarmee is ek tevrede. Ons beskik oor die vermoë om drieë te druk, maar ek voel daar was foute en ons het onsself te na gekom.

“Dit kon ons sien met die drieë wat teen ons gedruk is, maar dis klein goedjies waaraan gewerk moet word.

“Ons is nou baie meer ontspanne nadat die wedstryd gewen is, want daar was maar ’n bietjie senuagtigheid,” sê Smith.

Teen die einde van die wedstryd het die Vrystaat 61% van die besit en 60% gebiedsvoordeel geniet. Met dié statistieke sal hulle baie tevrede voel. Hulle sal wel voel dat hulle meer drieë kon gedruk het.

Met ’n tuishalfeindstryd op die spel in die naweek se wedstryd, sê Smith dit is nog nie deel van sy span se gedagtegang nie.

“Ons praat nie eintlik oor die halfeindstryd nie, alles gebeur soos dit moet. Ons moet eers teen die WP speel en voortbou op die selfvertroue van die naweek se wedstryd.”

Een swaeltjie maak nie ’n somer nie – maar die Vrystaat het die naweek twee gehad. Die oud-Springbok-skrumskakel Ruan Pienaar (’n drie) en die senter Benhard Janse van Rensburg (twee drieë) het sprankelrugby gespeel.

Laasgenoemde was die Speler van die Wedstryd vir sy bydrae en Pienaar het gewys hoekom hy 88 keer die Groen-en-Goud oor die kop getrek het.

“Ek dink Ruan het sy voete goed gevind. Dit wys die werk wat ons die laaste drie weke met hom gedoen het, het vrugte afgewerp,” sê Smith.

Alwayno Visagie, stervleuel van die Pumas, op pad om sy driekuns aan drieë te voltooi teen die Vrystaat-Cheetahs. Foto: Gallo Images

Jimmy Stonehouse, breier van die Pumas, sê sy span het vir die soveelste keer te veel foute gemaak – in nog ’n wedstryd wat hulle eintlik moes wen.

“Dieselfde storie. Dis nou die vyfde wedstryd wat ons so verloor, wat ons eintlik kon gewen het. Dieselfde ongedwonge foute is weer gemaak, en ons was nie klinies genoeg nie,” sê Stonehouse.

Hy was wel tevrede met sy span se goeie poging.

Die Pumas het as sogenaamde “kleiner unie” vanjaar gewys hy kan saam met die groot honde blaf en dit is belangrik met die oog op die toekoms.

“Ek dink daar is waardevolle lesse geleer (in die Curriebeker-reeks). As daar nie so baie ongedwonge foute was nie, kon dit ’n ander wedstryd gewees het.

“Die veggees wat hulle ten toon gestel het om terug te veg en nooit die handdoek in te gooi nie, was verblydend om te sien.”

Die Pumas se agterlyn het manjifieke rugby gespeel en vier van hul vyf drieë is deur die senter Alwayno Visagie (driekuns) en die heelagter Devon Williams gedruk.

Die Laevelders sal nou in ’n promosie-relegasie-wedstryd teen die Griffons moet speel om hul Premierliga-status te behou.

Puntemakers:

Vrystaat-Cheetahs 43 (17): Drieë: Benhard Janse van Rensburg (2), Clayton Blommetjies, Ruan Pienaar, Jasper Wiese, Louis Fouché. Doelskoppe: Fouché (5).

Strafdoele: Fouché (1).

Pumas 37 (22): Drieë: Alwayno Visagie (3), Devon Williams, Jeandré Rudolph. Doelskoppe: Chris Smith (3). Strafdoele: Smith (2).

Curriebeker-bepalings

Curriebeker-puntelys

Curriebeker-uitslae

Meer oor:  Vrystaat  |  Westelike Provinsie  |  Pumas  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.