Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
VS-spelers staan nou bakhand
Ruan Pienaar is een van die spelers wat sakelui genader het.

In ’n ongewone stap in Suid-Afrikaanse rugby het spelers van die Cheetahs, wat name soos Ruan Pienaar en William Small-Smith insluit, ingespring om die Vrystaat se rugbystatus as ’n grote te probeer red.

Pienaar-hulle en ’n bestuurslid van die Cheetah-span, die fokusfasiliteerder Ruan Botha, het verskeie bekende sakelui in hul soektog na aandeelhouers en oplossings genader. Dit sluit handelsmerke soos onder meer SA Truck, OFS Smart Repair, Human Auto, Nashua, Downtouch en selfs die prokureur Ian Small-Smith in.

Rapport is bewus van ’n vergadering tussen van die bogenoemde partye waar selfs agtergrondinligting oor die Cheetahs se geldsake aan van die moontlike aandeelhouers deurgegee is.

“ ’n Gevoel bestaan dat die Cheetahs op die sypaadjie lê en doodbloei; iemand moet iets daaraan doen,” het ’n ingeligte gesê.

Die hoop bestaan dat ’n konsortium gestig kan word om die Cheetahs te red nadat hulle uit die Pro16-reeks gegooi is.

“Ons wil graag hê die sakemanne moet betrokke raak; ons het hulle dringend nodig,” het ’n tweede ingeligte aan Rapport gesê.

Die Cheetahs se weglating uit die Pro16 het ’n yslike impak op hul geldsake. Hulle sal voortaan miljoene rande minder in franchisegeld van SA Rugby verdien, vergeleke met die ander vier grotes.

Sedert dit bekend geword het dat die Cheetahs hul Pro16-status kwyt is, het topspelers, onder wie Walt Steenkamp, Sintu Manjezi, JP du Preez, Jasper Wiese, Tian Schoeman, Reinach Venter en Benhard Janse van Rensburg die provinsie al by die dosyne verlaat.

Ander spelers soos Boan Venter, Carl Wegner, Rhyno Smith en Reniel Hugo het ook die afgelope tyd bevestig hulle is op pad weg.

Die verkleinde begroting en onsekerheid oor of die Cheetahs in ’n internasionale kompetisie sal deelneem, maak dit vir Hawies Fourie, afrigter, ’n byna onbegonne taak om sy staatmakers te behou en aanwinste te lok.

Boan Venter Foto: Gallo Images

Planne word met SuperSport se ingryping gemaak dat die Cheetahs moontlik in ’n Intercontinental Cup sal speel. Spanne van Rusland, Spanje en Duitsland sal onder meer daaraan deelneem.

Daar is sprake daarvan dat die Cheetahs daardie toernooi kan gebruik om vir die Europese Challenge Cup of selfs die Kampioenebeker (die ou Heinekenbeker-toernooi) te kwalifiseer, waar groot geldelike voordele wag.

Die probleem is dat daar nie voor einde Februarie enige bevestiging verkry sal word of die Intercontinental Cup wel plaasvind en of die Cheetahs daarin sal speel nie.

Die uitdaging vir baie spelers is dat hulle nou in ’n hoek vasgekeer word omdat hulle gesinne het en sekuriteit nodig het. Hulle moet noodgedwonge besluite neem voordat die klousule van 120 dae, wat hulle die reg op vrystelling van hul kontrakte gee, verstryk.

Vrese bestaan intussen dat dit te duur vir die Cheetahs sal raak om voortaan hul tuiswedstryde in die Vrystaatstadion te speel. Selfs personeellede van die franchise vrees afleggings.

Die moontlikheid bestaan wel dat die Cheetahs vorentoe met meer gereelde toetse in Bloemfontein hul geldkoffers kan vul.

Intussen is dit onduidelik tot wanneer Harold Verster as besturende direkteur van die Cheetahs aanbly. Hy moes reeds in Desember klaargemaak het, maar is steeds in die stoel. 

Meer oor:  Aandeelhouers  |  Sakelui  |  Spelers  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.