Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vuisvoos Kings soek troosprys in Bloem

Asseblief, blaas tog net die eindfluitjie!

Dis dalk hoe baie ondersteuners van die Southern Kings voel ná ’n teleurstellende seisoen waarin die Kings sover net twee van hul Pro14-wedstryde kon wen. Nog een het darem gelykop geëindig.

Die Kings se nuwe losskakel, Courtney Winnaar. Foto: Gallo Images

Saterdag speel die Kings in hul laaste wedstryd van die seisoen in Bloemfontein teen die Cheetahs.

Nes verlede seisoen, moes die Kings se afrigter, Deon Davids, weer raap en skraap om ’n span fikse spelers bymekaar te kry.

“Dit was ’n taai week. Dis die laaste week in ’n lang, veeleisende seisoen en daar was beseerde spelers wat ons versigtig moes bestuur,” sê Davids.

“Dis ook ’n ietwat emosionele tyd omdat dit party manne se laaste wedstryd vir die Kings gaan wees.”

Onder die beseerdes tel Yaw Penxe, Berton Klaasen, Andisa Ntsila, Stephan Greeff en Andisa Ntsila – om net enkeles te noem.

Die Kings kan terugkyk op ’n reeks waarin hulle – ondanks alles wat teen hulle getel het – meer wedstryde kon en moes gewen het. Om daardie rede kan ’n mens die seisoen as ’n frustrasie beskryf. En om daardie rede wil die Kings darem die seisoen op ’n wennoot afsluit.

Die koue statistieke wys egter dat die Kings nog nooit die Cheetahs in ’n Super- of Pro14-wedstryd kon troef nie. Om dit boonop in Bloemfontein te gaan probeer doen, sal nog moeiliker wees.

Dan weer, dis nie asof die Cheetahs self die veld hierdie seisoen aan die brand gespeel het nie. Hulle het sover net sewe van hul 20 wedstryde gewen, met nog een wat gelykop geëindig het.

Hopelik vat albei spanne vir oulaas vlam en gee hul ondersteuners iets om oor te juig in hierdie laaste stryd van die seisoen.

Die Kings se wyse manne het besluit om Courtney Winnaar, wat hom ’n paar weke gelede van die Haaie by die Kings aangesluit het, op losskakel te laat begin.

Die Fidjiaan Meli Rokoua kry ’n kans op regtervleuel en Tienie Burger maak ’n welkome terugkeer op flank nadat hy ’n tydjie lank met ’n besering gesukkel het.

Spanne

Cheetahs: Louis Fouché, Tian Meyer (k), Benhard Janse van Rensburg, Dries Swanepoel, Rabz Maxwane, Tian Schoeman, Shaun Venter, Henco Venter, Abongile Nonkontwana, Marnus van der Merwe, JP du Preez, Walt Steenkamp, Aranos Coetzee, Joseph Dweba en Charles Marais. PLAASVERVANGERS: Reinach Venter, Boan Venter, Erich de Jager, Sintu Manjezi, Jasper Wiese, Rudy Paige, Malcolm Jaer en Darron Adonis.

Kings: Masixole Banda, Meli Rokoua, Harlon Klaasen, Sibusiso Sithole, Bjorn Basson, Courtney Winnaar, Stefan Ungerer, Ruaan Lerm, Tienie Burger, Stephan de Wit, JC Astle (k), Dries van Schalkwyk, De-Jay Terblanche, Michael Willemse en Schalk Ferreira. PLAASVERVANGERS: Alandre van Rooyen, Xandre Vos, Lupumlo Mguca, Schalk Oelofse, Jurie van Vuuren, Poerie van Rooyen, Bader Pretorius en Ntabeni Dukisa.

  • Skeidsregter: Dan Jones (Wallis).
  • Afskop: 17:30 (SS 1).

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.