Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rugbyunies pleit: 'Help! Ons bloei'

Hoop en bid . . . en ’n draai by die land se banke.

Dít is van die moontlike reddingsboei-idees wat die afgelope week rondgeskop is op ’n vergadering tussen SA Rugby en die land se 14 unies.

Die geldknyp wat SA Rugby ervaar, en die verarming van sy unies weens veel kleiner toelaes, het Dinsdag op SA Rugby se virtuele hoofraadsvergadering soos ’n doodsklok vir die unie-base gelui.

Hulle het kommer uitgespreek oor Covid-19 se katastrofiese impak op rugby se geldsake, wat in die ergste scenario daartoe kan lei dat die vier groot unies net R31 miljoen van hul SA Rugby-toelae van R47 miljoen gaan kry.

SA Rugby het boonop in die eerste vier maande van die jaar net sowat R1 miljoen per maand aan die unies betaal – heelwat minder as die R4 miljoen per maand wat hulle in ’n normale jaar sou gekry het.

Een top-rugbybaas het gesê as hulle geweet het wat hulle nou weet, sou dit dalk beter gewees het om spelers se kontrakte op te skort en hulle net wedstrydgeld te betaal.

Die rugbybase hoop nou dat daar oor sowat drie maande verligting sal wees.

“Ons sal moet bid en hoop dat alles realiseer,” het Zelt Marais, WP-president, gesê.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie. Foto: Gallo Images

“Ek is baie bekommerd oor hoe ons gaan deurkom. Ons sal ’n plan moet maak.

“Ons moet as ’n kollektief, dalk met SA Rugby se samewerking, sien hoe ons samesprekings met die verskillende banke kan hê om deur die ding te kom. Ons weet die geld sal uiteindelik vloei, al is dit oor drie of ses maande se tyd.

“Die uitdaging waarmee ons nou sit, is hoe ons die volgende drie tot vier maande oor daardie brug kan kom.”

Altmann Allers, voorsitter van die Leeus Maatskappy, het nie ’n moordkuil van sy hart gemaak nie.

“Ons (die internasionale franchises) het almal begroot (volgens die aanvanklike toelae). Ons het in die eerste kwart van die jaar net ’n derde van ons betaling gekry, selfs minder. Ons is onder ernstige kontantvloeidruk.

“Julle het ons laat glo dat die situasie teen Junie sal verbeter. Nou hoor ons ’n ander storie. Die risiko word nou aan die unies deurgegee.

“As ons geweet het die toedeling sou net R1 miljoen per maand wees, kon ons iets daaraan doen. Ons kon MyPlayers bel en sê ons wil ons spelers laat gaan en ’n wedstrydgeld-scenario oorweeg.”

Eduard Coetzee, uitvoerende hoof van die Haaie, het ook die kontantvloei-druk waaronder die franchises verkeer, beklemtoon. 

Altmann Allers

“Ek dink ons almal is in ’n baie moeilike situasie hier. Ons het almal vir die R47 miljoen begroot.” 

’n Voorstel deur Coetzee dat SA Rugby minstens die toelae wat hulle hoop om vanjaar aan die franchises te gee, sal waarborg, is nie aanvaar nie.

Mark Alexander, president van SA Rugby, het dit duidelik gestel dat hulle nie geld gaan toedeel waaroor hulle nog nie sekerheid het nie.“Dit sal roekeloos wees om ’n begroting voor te stel waarvan ons nog nie die inkomste het nie,” het Alexander gesê.

“Covid-19 kan nog kompetisies laat sneuwel wat groter probleme sal veroorsaak. Ek kan nie eens voorstel dat ons daaroor stem nie.” 

SA Rugby se geldsake is so beroerd dat die franchises in die eerste vier maande van die jaar net ’n derde van hul maandelikse toelae uit SA Rugby se inkomste uit TV-regte en borgskappe gekry het. SA Rugby benodig R116 miljoen voor einde September om hul volle verpligtinge teenoor die 14 unies na te kom.

Die Britse en Ierse Leeus-toer, die Pro16-reeks en die Bok-toetse in die Rugbykampioenskap sal ’n groot invloed hê of SA Rugby die miljoene sal kan invorder.

Die geldknyp kan glo selfs die Leeus en Westelike Provinsie dwing om weer werknemers en spelers te vra om salarisverminderinge te aanvaar.Rapport verneem die WP en Leeus is besig om nóg salarisverminderinge te ondersoek.

Bronne het bevestig daar is op ’n onlangse vergadering van Sareo (die werkgewersorganisasie) individuele gesprekke met franchises oor die kwessie gehou. Die Haaie en Bulle het dadelik nee gesê vir voorstelle van ’n kollektiewe salarisvermindering. Daar is toe besluit franchises sal op hul eie bepaal of hulle salarisverminderinge wil instel, en dit in samewerking met MyPlayers en Sports Employees Unite (die werknemersvakbond) onderhandel.

Marais het by navraag ontken dat die WP Sareo gevra het dat kollektiewe salarisverminderings heringestel word: “WP Rugby dra nie kennis daarvan nie. Die pandemie het egter druk op alle franchises geplaas om dinge slimmer en doeltreffender te doen.”

Rudolf Straeuli, uitvoerende hoof van die Leeus. Foto: Gallo Images

Rudolf Straeuli, die Leeus se uitvoerende hoof, wat ook die hoof van Sareo is, het by navraag gesê geen franchise het vir salarisverminderinge gevra nie. Hy het nie gereageer op die vraag of die Leeus salarisverminderinge oorweeg nie.

Die Leeus, WP, Bulle en Haaie moes juis tydens Dinsdag se vergadering hoor SA Rugby sal, soos sake tans staan, vanjaar aan elkeen slegs ’n bedrag van R31,36 mil­joen kan waarborg. Dié franchises het hul kontraktering gedoen met die veronderstelling dat hulle R47,2 miljoen sal kry.

SA Rugby hoop steeds om by dié bedrag uit te kom as alles uitwerk. Daar is ook ’n “middel-scenario” waar die unies elk R42,34 miljoen sal kry.

Die Bulle, Leeus, Haaie en WP het van Januarie tot April elk net R1 087 083 per maand van daardie gewaarborgde R31,36 miljoen ontvang. SA Rugby sal hul betaling van Mei af tot R3 376 325 miljoen elk opskuif.

Die drie binnelandse franchises, die Cheetahs, Pumas en Griekwas, het Dinsdag gehoor SA Rugby sal vanjaar slegs R12,8 miljoen vir elk kan waarborg. Hulle  mik ten beste na R19,4 miljoen. Die Cheetahs kan meer ontvang as hulle wel later aan ’n internasionale toernooi deelneem.

Die nie-franchises, OP, Griffons, Valke, Luiperds, SWD, Boland en Grens, is elkeen verseker van ’n toelae van R8,2 miljoen. SA Rugby hoop om hulle R12,4 miljoen elk te gee as hy die gat van R116 miljoen in sy begroting kan vul.

Onder die groot spanne sukkel die Leeus en die WP glo om te verseker dat hul hoofborge die volle bedrae vir hul borgskappe betaal. Rapport verneem die borge voel hulle kry nie waarde vir hul geld soos ooreengekom nie.

Veral die Leeus se borg, Emi­rates, het staatgemaak op die span se oorsese wedstryde om hulle wyer blootstelling te gee.  

Daar is glo ’n soortgelyke argument in die Kaap met die Stormers se hoofborg, DHL. DHL het nie op Rapport se navrae oor die kwessie gereageer nie.

Die gevolg is dat sowel die Leeus as WP volgens ingeligtes met kontantvloei sukkel en dus na die salarisverlagings kyk.

Marais het by navraag ontken dat daar ongelukkigheid by WP se borge is: “Die borge se opbrengs op belegging het die markverwagting oortref, selfs tydens die inperking.”

Die Haaie het onlangs ’n ekwiteitsvennoot in MVM Holdings ingebring, wat sy bankbalans ’n stewige hupstoot gegee het. Die Bulle ry tans op die golf van sukses. Hulle het die afgelope drie weke vier nuwe borgskappe aangekondig.

Meer oor:  Rugbyunies  |  Sa Rugby  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.