Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vurige Namibiër steek hand op vir Bulle

Die oefenwedstryde in die Tuks-stadion sou nooit ’n ware maatstaf vir Superrugby-gereedheid wees nie, maar Pote Human, die Bulle-hoofafrigter, is nietemin tevrede met dít wat hy gesien het.

Louis van der Westhuizen, wat verlede jaar vir Namibië in die Wêreldbekertoernooi gespeel het, het sy spiere vir die Bulle gebult in ’n oefenwedstryd teen ’n span van Tukkies. Foto: Getty Images

Twee spanne van die Bulle het die Tukkies Saterdag met onderskeidelik 40-0 en 96-5 geklop.

Hoewel die Bulle se sterker span met tye hard moes werk om af te rond, was daar bemoedigende tekens.

Albei Springbok-skrumskakels, Ivan van Zyl en Embrose Papier, het skerp gelyk, terwyl die losskakels Chris Smith, Manie Libbok en Morné Steyn, sowel as die opwindende David Coetzer, met heelwat ondernemingsgees gespeel het.

Veral Steyn was indrukwekkend toe hy in die tweede wedstryd van die bank af speelkans gekry het.

Human sê hy is ook tevrede met die diepte op haker.

Corniel Els het nie gespeel nie, maar daar gaan gesonde wedywering tussen hom, Johan Grobbelaar, Jaco Visagie en die Namibiër Louis van der Westhuizen wees.

Van der Westhuizen, wat sy land verlede jaar in die Wêreldbekertoernooi in Japan verteenwoordig het, sou Human stof tot nadenke gegee het met sy vurige spel.

“Ek is heel tevrede. Ons het in die eerste wedstryd 18 strafskoppe afgestaan en Tukkies het goeie teenstand gebied.

“ ’n Mens weet jy kan nie veel uit hierdie wedstryde leer nie, maar dit is goed dat ons speeltyd kon kry en kontak gemaak het,” het Human gesê.

Die Bulle sal Sondag in die FNB-stadion met ’n volsterkte-span teen die Leeus speel.

Die seisoen het nog nie begin nie en daar is reeds kommer oor beserings in die Bulle-kamp.

Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, was tevrede met sy spelers se vertonings in hul eerste volwaardige kontaksessie van die seisoen. Foto: Gallo Images

Albei die Bok-stutte, Trevor Nyakane en Lizo Gqoboka, was Saterdag toeskouers, terwyl die slot Juandré Kruger hom weens ’n hakseningbesering aan die stryd teen die studente moes onttrek.

Nog ’n Springbok, die flank Marco van Staden, het jelliebene gehad nadat hy in die tweede helfte van die eerste wedstryd ’n harde stamp teen die kop gekry het.

Human sê Van Staden het oënskynlik nie harsingskudding opgedoen nie en sal na verwagting op sy pos wees teen die Leeus.

“Ons sal nie kanse waag met Marco nie. Ek glo hy sal reg wees, maar ons sal Maandag kyk hoe dit met hom gaan.”

Die spelers in die Bulle se groep wat nie Sondag in die FNB-stadion gaan uitdraf nie, sal Vrydag op Loftus se B-veld teen ’n span van die Leeus speel.

* Puntemakers:

Bulle 40 (21): Drieë: Rosko Specman (2), Andries Ferreira, Dawid Kellerman, Sebastian Jobb, Johnny Kotze. Doelskoppe: Chris Smith (3), David Coetzer (2).

Tukkies 0.

Bulle 96: Drieë: Jaco Visagie (2), Dylan Sage, Jade Stighling (2), Marnus Potgieter, Gerhard Steenekamp, Divan Rossouw, Franco Naudé (2), Jay-Cee Nel, Josh Strauss, Jeandré Rudolph (2). Doelskoppe: Manie Libbok (7) Morné Steyn (6).

Tukkies 5: Drie: Clyde Lewis.

Meer oor:  Morne Steyn  |  Bulle  |  Tukkies  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.