Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Vurige Rynhardt het Franse aan die praat

Rynhardt Elstadt, ’n voormalige klipharde flank en slot van die Stormers, het die tonge in Frankryk los met sy inklimspel.

Die klipharde Rynhardt Elstadt is volgens Senekal iemand wat Franse kenners gaande met sy spel het. Foto: Getty Images

Dewald Senekal, afrigter van Grenoble, sê rugbykenners in Frankryk is beïndruk met die 29-jarige Elstadt se spel vir Toulouse.

In Suid-Afrika is Elstadt gereeld oor die kole gehaal omdat hy so rof speel, maar sedert hy twee jaar gelede Frankryk toe geskuif het, word hy op die hande gedra.

“Al die Suid-Afrikaners wat in Frankryk gaan speel, maak dit nie altyd nie, maar Rynhardt word hoog aangeslaan,” sê Senekal.

“Almal weet van Rory Kockott en Antonie Claassen se suksesverhale (in Frankryk), maar ouens soos Rynhardt, JC Janse van Rensburg en Cheslin Kolbe doen ook baie goed.”

Kockott en Claassen het reeds vir Frankryk uitgedraf. Kolbe is ook een van Toulouse se sterre en Janse van Rensburg is ’n sleutelspeler by Grenoble.

JC Janse van Rensburg, hier nog in sy Stormers-trui, is een van Grenoble se steunpilare. Foto: Gallo Images

“Ek het saam met JC by Bayonne gespeel, so toe ek ’n afrigter by Grenoble word het ek geweet ons maak ’n goeie kopie toe ons hom kontrakteer,” sê Senekal.

“Hy is baie professioneel. Hy is ook ’n puik skrumwerker en dit is iets wat in Frankryk baie punte tel.

“Hy is dalk ongelukkig om op dieselfde tyd as verskeie ander goeie loskopstutte te speel, anders kon hy sekerlik baie toetse vir die Springbokke gespeel het.”

Die 38-jarige Senekal, wat in Uitenhage gebore is, is tans met vakansie in die land en span so ’n bietjie in Jeffreysbaai uit.

“Dis lekker om weer van my familie te sien en asem te skep voordat die Top14-reeks hervat,” sê Senekal.

Die voormalige Haaie-skrumskakel Rory Kockott is reeds jare lank ’n sleutelspeler vir die Franse klub Castres. Foto: Getty Images

Senekal het onder andere vir die Cheetahs en die Leeus gespeel voordat hy in 2009 Frankryk toe is om vir Toulon te speel.

Daar het hy gou naam as agtsteman van formaat gemaak en het hy ook vir Agen en Bayonne uitgedraf.

Terwyl hy vir Bayonne gespeel het, het hy begin afrigtingskursusse doen.

Toe hy in 2015 die stewels wegpak, het hy as voorspeler-afrigter by Bayonne begin werk.

By Bayonne het hy so goed gevaar dat hy ’n aanbod van Grenoble gekry het en hy is nou al in sy tweede jaar saam met die voormalige Franse senter Stéphane Glas, die mede-hoofafrigters.

“Ons sukkel op die oomblik om aan die boonste punt van die puntelys te kom, maar ons is besig om ’n goeie span te bou,” sê Senekal.

“Waar ’n span soos Stade Francais ’n begroting het van ongeveer 32 miljoen Euro’s is ons s’n iets soos 18 miljoen.”

Dewald Senekal is deesdae een van die opkomende afrigters in Frankryk. Foto: Getty Images

Volgens Senekal is dit belangrik om baie diepte in ’n veeleisende reeks soos die Top 14 te hê.

“Jy moet deeglik nadink wanneer jy spelers kontrakteer. Daar is ook ’n veldtog in Frankryk aan die gang dat meer plaaslike spelers ontwikkel en gebruik moet word,” sê hy.

Dit klink of hy en Glas op die regte pad is, want Grenoble het onlangs hul kontrakte met nog twee jaar verleng.

“Ek het reeds Franse burgerskap en my aanstaande vrou is Frans, so ek voel baie tuis in Frankryk,” sê Senekal, wat glo die eerste dag van sy vakansie in die Suid-Afrika “twee kilogram” droëwors geëet het.

“Ek het nog baie om te leer van afrigting en my eerste doel is om suksesvol by Grenoble te wees.

“In die toekoms hoop ek om een van die ses top spanne in Frankryk af te rig.”

* Kyk en luister hier hoe gemaklik praat Dewald Senekal Frans:


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.