Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
5 sonstrale: Dis weer blink kant bo vir Bokke

Die Springbokke het die rugbywêreld weer vir ’n slag oor die regte redes aan die praat ná Saterdag se roemryke sege van 36-34 oor die magtige All Blacks in Wellington. Hendrik Cronjé, wat saam met hulle in Australasië vir die Rugbykampioenskap-kragmetings met die Wallabies in Brisbane en die een in die Westpac-stadion was, skryf daar is uiteindelik weer positiewe tekens.

Jesse Kriel brul van plesier nadat die Bokke Saterdag oor die All Blacks geseëvier het. Foto: Getty Images

Bokke kan nóg beter

Die Bokke se diepte gee ’n mens skielik nuwe moed ná die skoksege in Wellington.

Vir ’n tikkie perspektief moet ’n mens eers onthou dat die All Blacks sonder iemand soos Brodie Retallick moes klaarkom. Nieu-Seeland is twee verskillende gediertes met en sonder hom.

Sonder hom was die Kiwi’s se sogenaamde lynstaan-ketting van Retallick, Sam Whitelock en Kieran Read onder meer gebreek. As ’n eenheid word hulle as die voorste mededingers op teenstanders se lynstaaningooie in wêreldrugby beskou.

Dit moet natuurlik nie uit die oog verloor word nie dat die All Blacks steeds ses keer agter die Bokke se doellyn gaan kuier het. Rassie Erasmus se span het nog hope ruimte vir verbetering. Foto: AP

Retallick en spelers soos Sonny Bill Williams, Joe Moody en Dan Coles se afwesigheid in die Westpac-stadion het hulle sonder twyfel verswak.

Die slegte nuus vir die Kiwi’s is dat hulle steeds sonder Retallick (skouerbesering) en Moody (duimbesering) in 6 Oktober se toets teen die Bokke op Loftus Versfeld moet klaarkom.

Wat die Bok-kamp betref, is daar in die aanloop tot die toets in Wellington gesê die sterkste beskikbare span is gekies.

Kyk ’n mens egter wie nie op die toer in Australasië was nie, kan spelers soos Coenie Oosthuizen, Vincent Koch, Trevor Nyakane, Lood de Jager, Jaco Kriel, Marcell Coetzee, Jean-Luc du Preez, Duane Vermeulen, Cobus Reinach, Pat Lambie (as hy betyds van sy besering herstel), Frans Steyn, Jan Serfontein, Makazole Mapimpi, S’bu Nkosi en Warrick Gelant die Bokke se diepte ’n welkome hupstoot wees vir die einde van die jaar se toer na Europa.

Rassie Erasmus het terloops op toer bevestig hy wil iemand soos Lambie vorentoe ’n kans gee.

Kaptein Fantasties. Siya Kolisi het Saterdag van voor gelei in die Bokke se yslike poging in Kiwi-land. Foto: Reuters

Kolisi bring sy kant

Een van die grootste positiewes van die toer deur Australasië is Siya Kolisi se spel.

In Junie het hy alle kassies getik om die Bok-kaptein te word – behalwe die belangrikste een: hoe hy weekliks as speler tussen die vier wit lyne vaar.

As die nasionale keurders nou ná die eerste drie rondes van die Rugbykampioenskap hul beginspan kies, kies hulle Kolisi eerstens as ’n speler en dan as kaptein.

Kolisi verstaan sy rol as ’n speler in die span beter. Hy weet nou hoe belangrik dit is om met daad, eerder as woord, te lei.

Voor die toets in Wellington het hy as baldraer twee keer meer teenstanders as enige voorspeler in die Rugbykampioenskap geklop. Toe dit van hom teen die All Blacks verwag is om meer te duik en ’n groter rol by die afbreekpunte te speel, het hy aan verwagtinge voldoen.

Daar is tot dusver in die Rugbykampioenskap bestendigheid in sy spel. Tot Junie was dit nog ’n leemte in sy mondering. Hy het die neiging gehad om een briljante toets met so twee of drie bra gemiddelde vertonings op te volg.

Sy verbeterde spel beïnvloed sy selfvertroue ontsaglik baie as kaptein. Dít was duidelik in die week se nuuskonferensies in Wellington.

Hy is op die regte pad om sy kapteinskap op lang termyn te behou, maar dan moet daardie opwaartse kurwe voortduur.

Trojane in Groen! Pieter-Steph du Toit en Wilco Louw span saam om Patrick Tuipulotu in sy spore te stuit. Die Bokke is gevra om meer as 200 duikslae te maak, met Du Toit verantwoordelik vir 28 daarvan. Foto: Getty Images

Nienaber ken sy storie

Jacques Nienaber verrig so stil-stil ’n uitstekende taak as die man in beheer van die Bokke se verdediging.

In 2016 was hy Allister Coetzee se verdedigingsafrigter toe Suid-Afrika ’n reekssege oor Ierland behaal het. Daardie Ierse span het later dieselfde jaar die All Blacks in die VSA geklop.

Die Bokke het ook vroeër vanjaar, danksy onder meer Nienaber se insette, ’n reekssege oor Engeland behaal. En dan was daar Saterdag se wen oor die All Blacks, waarin die Suid-Afrikaners se duikwerk ’n besonderse kenmerk was.

Nienaber verkies dit om uit die kollig te bly, maar dis duidelik dat die Bokke vir eers in veilige hande is wat hul verdedigingsplanne onder hom betref.

WB-saadjie is nou geplant

Verlede jaar se naelskraapse nederlaag van 24-25 teen die All Blacks in die Kaap het die Bokke die selfvertroue gegee dat hulle die Kiwi’s kan klop.

Saterdag se wen in Wellington sal die Suid-Afrikaners nou laat glo dat hulle Nieu-Seeland in hul groepwedstryd in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan kan wen.

Die All Blacks sal terselfdertyd begin besef dat hulle geklop kan word. Onthou die Britse en Ierse Leeus het hulle ook hier in Wellington geklop.

Met kookwater-Bok-groentjies soos Aphiwe Dyantyi en Cheslin Kolbe is daar rede om te droom van ’n gróót Wêreldbeker-veldtog. Foto: Reuters

Die All Blacks is steeds ongeveer 15 punte beter as enige ander span, maar daar is krake in hul mondering.

Saterdag se oorwinning was nie net belangrik vir die Bokke nie, maar ook vir die Rugbykampioenskap. Die All Blacks se oorheersing was nie goed vir die toernooi of sy vennote nie. Dít het te voorspelbaar geraak en die belangstelling laat kwyn.

Dit sal verbaas as Loftus Versfeld nie nou uitverkoop is vir die All Black-toets nie.

SA nog nie afgeronde produk

Voordat Rassie Erasmus Sondagoggend in Wellington op die vliegtuig terug na Suid-Afrika geklim het, het hy ’n klomp wyshede kwytgeraak wat sy spelers ter harte moet neem.

“Die grootste truuk is om nie te emosioneel te raak nie, want ons wen min in Nieu-Seeland,” het hy gesê.

“Die ouens het groot durf getoon. Die wyse waarop ons die All Blacks se skitterende baldraers en taktiese spelers kon keer, sal die spelers veral baie selfvertroue in ons verdedigingstelsel gee.

“Ons kan egter nie meegevoer raak in die wen nie, want daar is baie foute. Maar dít gee ons nietemin baie hoop.

“Ons sal die toets geniet, maar ons sal nie so dom wees om te dink ons is reeds die afgeronde produk nie.”

Erasmus het gewaarsku reuse-uitdagings wag in die tuistoetse teen die Wallabies en die All Blacks.

* Puntemakers:

All Blacks 34 (17). Drieë: Jordie Barrett, Aaron Smith, Rieko Ioane (2), Codie Taylor, Ardie Savea. Doelskoppe: Beauden Barrett (2).

Springbokke 36 (24). Drieë: Aphiwe Dyantyi (2), Willie le Roux, Malcolm Marx, Cheslin Kolbe. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoel: Pollard.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.