Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallabies deur Bokke ge-Jantjies

Die Wallabies is Saterdagaand ge-Jantjies deur die Springbokke.

Die skrumskakel Herschel Jantjies op pad doellyn toe vir die eerste van twee drieë in sy debuuttoets vir die Springbokke teen die Wallabies op Ellispark in Johannesburg. Foto: Gallo Images

Met die nuweling-skrumskakel, Herschel Jantjies, aan die spits, het die Springbokke Australië met 35-17 geklop in hul Rugbykampioenskapstoets op Ellispark in Johannesburg.

Dit het die groentjie-skrumskakel, Jantjies, net minder as ’n kwartier in die Boktrui geneem om sy eerste drie te druk.

Hy was die uitstaande Bok op die veld en het homself op geen onsekere wyse nie aangekondig in toetsrugby. Met hierdie buksie van die Kaap is daar goud raakgeboor.

Hy het die beweging vir sy debuutdrie binne sy eie halfgebied begin deur steelkant om te breek en die bal is vining deur die hande na Sbu Nkosi, wat ná ’n goeie lopie met ’n binne-aangee weer vir Jantjies gevind het, wat onder die pale gedruk het.

Hy was ’n rukkie later enkele sentimeters kort daarvan om sy tweede te druk, toe Pieter-Steph du Toit vorentoe geskop en Jantjies die bal skitterend onder beheer gekry en rieme neergelê het doellyn toe. Hy is net voor die doellyn gestuit, maar in die dieselfde beweging het Lood de Jager oorgegaan.

Die kookwater Jantjies het wel sy tweede drie gedruk toe hy halfpad deur die tweede helfte weer steelkant om is en die Wallabies aan die slaap gevang het om deur te suiker.

Toe hy met so ’n kwartier se spel oor vervang is, is hy luid toegejuig deur die waarderende skare van 51 200 toeskouers.

Die Wallaby-senter Samu Kerevi is in die eerste helfte deur ’n gaping so groot soos ’n waenhuisdeur en het die flank LukhanSalakaia-Loto in besit gestel wat oor die doellyn is, maar nadat die beweging op die groot skerm gewys is, het die uitjouery van die skare die skeidsregter, Paul Williams, laat besluit om dit na die TV-skeidsregter te verwys. Hy het die vermoede bevestig dat die aangee van Kerevi vorentoe was.

Die Bok-vleuel Sbu Nkosi plant die bal nadat die Springbokke die bal skitterend hanteer het.Foto: Gallo Images

Die besoekers het wel later ’n drie gedruk met die Bok-senter André Esterhuizen in die koelkas weens ’n gevaarlike hoogvat.

Die vleuel Dane Halett-Petty het in die hoek afgerond. Hy kon die gaping kort daarna verder verklein het, maar het in die proses om die bal onder beheer te kry en oor te val, dit aangeslaan.

Die geelkaart wat die Wallabies se plaasvervanger-stut Taniela Topou met ongeveer 25 minute se speeltyd oor gekry het, nadat hy gevaarlik met die skouer ingedons het by ’n losskrum, het verreikende gevolge vir die besoekers gehad.

Die Bokke het toe die voet op die pedaal gesit en ná volgehoue aanvalle het Nkosi gedruk. Elton Jantjies se doelskop het die voorsprong 11 punte gemaak voordat Herschel weer toegeslaan het en die seël op die sege geplaas het. Hierdie drie is ook gedruk met die Wallabies wat net 14 spelers op die veld gehad het.

Met speeltyd verstreke, het die plaasvervanger-skrumskakel, Cobus Reinach, deurgeglip om sy terugkeer met ’n drie te vier.

Hoewel die Bokke die sege verdien het, was dit nie net maanskyn en rosegeur nie en was daar genoeg onbeholpe spel waaraan gewerk sal moet word voordat hulle die wêreld se nommereen-span, Nieu-Seeland, volgende week in Wellington pak.

Erasmus sal egter tevrede wees dat al die debutante, asook die spelers wat hy van oorsee teruggebring het, almal gewys het dat hulle reg is.

* Puntemakers: Springbokke 35 (14): Drieë: Herschel Jantjies (2), Lood de Jager, Sbu Nkosi, Cobus Reinach. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).

Wallabies 17 (10): Drieë: Dane Haylett-Petty, Bernard Foley. Doelskoppe: Foley (2). Strafdoel: Foley.

Meer oor:  Ellispark  |  Johannesburg  |  Wallabies  |  Rugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.