Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallabies en Poemas speel gelykop

Australië het Saterdag ’n voorsprong van nege punte prysgegee om gelykop teen Argentinië te eindig met die spanne wat die louere met 15-15 moes deel.

Die Poemas se Bautista Delguy word deur die Wallabies se Michael Hooper en Jordan Petaia platgetrek in die spanne se Drienasies-kragmeting in Newcastle. Foto: Getty Images

Die Wallaby-breier Dave Rennie sal nog lank kopkrap oor hoe sy span nie daarin kon slaag om dié Drienasies-stryd te wen nie al het hulle by verre die grootste porsie balbesit en gebiedsvoordeel geniet en boonop die meeste van die speelwerk gedoen.

Die Wallabies se benadering was duidelik om die bal so gereeld as moontlik rond te slinger, terwyl die Poemas oudergewoonte eerder hangskoppe die lug ingestuur het en met goeie opvolgwerk die Australiërs wou dwing om foute te maak.

Dié taktiek het met tye die tuisspan se ritme versteur, maar die Poemas se dissipline was egter ’n groot kwelpunt.

Toe die Argentynse haker Julian Montoya vroeg in die tweede helfte koelkas toe gestuur is, en Reece Hodge, wat al sy span se punte met die skopskoen aangeteken het, met twee strafdoele die Wallabies ’n 15-6-voorsprong gegee het, het dit gelyk of dit neusie verby sou wees vir die besoekers.

Die Wallabies het verskeie geleenthede op die aanval verbrou en kon ’n groter voorsprong geniet het as die akkuraatheid beter was en die kaptein, Michael Hooper, nie so obsessief was om, veral in die eerste helfte, lyn toe te mik wanneer ’n potensiële drie punte op ’n skinkbord vir hulle aangebied is nie.

Trouens, teen die tyd dat die rustydfluitjie geblaas het, het die Wallabies 66% van die balbesit geniet en was nie minder nie as 78% van die eerste helfte in die Poemas se halfgebied.

Die span het egter drie geleenthede om te gaan druk verbrou in die eerste 40 minute en Hooper se besluite het in die eerste helfte geen teken gewys daarvan dat sake op die telbord so naby is soos wat dit in daardie stadium was nie. Dit sou hulle egter later duur te staan kom.

Die spanne het gaan asem skep met drie strafdoele deur Hodge, wat ’n 9-6-voorsprong aan Australië gegee het.

Ná rustyd het Hooper eindelik begin fokus daarop om die telbord aan die rol te hou eerder as om drieë te probeer inryg, maar dié slag was dit grootliks sy span wat die foute begin maak het en hulle aan die verkeerde kant van die skeidsregter, Paul Williams, se beslissings bevind het.

Nicolás Sánchez se skopskoen het vrugte afgewerp en sy span geleidelik terug in die stryd gebring.

’n Stukkie geluk het ook na die Argentyne se kant gekom toe Hodge, met drie minute se speeltyd oor en die telling gelykop, ’n geleentheid gegee is om pale toe te korrel. Sy skop was egter mis.

Puntemakers:

Australië 15 (9): Strafdoele: Reece Hodge (5)

Argentinië 15 (6): Strafdoele: Nicolás Sánchez (5)

Meer oor:  Dave Rennie  |  Reece Hodge  |  Nicolas Sanchez  |  Drienasies-Reeks  |  Wallabies  |  Poemas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.