Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallabies hou duimvas vir Kuridrani

Tevita Kuridrani is op koers om fiks te wees vir Australië se Wêreldbeker-openingswedstryd teen Fidji, maar sy mede-senter Jordan Petaia sal dalk eers vir hul derde wedstryd in Japan, teen Uruguay, beskikbaar wees.

Só het Michael Cheika, afrigter van die Wallabies, Woensdag gesê oor die skete in sy kamp.

Tevita Kuridrani. Foto: Getty Images

Albei spelers sukkel met dyspierbeserings, maar die 19-jarige Petaia se besering neem langer om te herstel.

“Tevita hardloop amper weer volspoed, so ek hoop hy is volgende naweek verkiesbaar,” het Cheika by die span se oefenkamp in Odawara gesê.

“Ons mikpunt vir Jordan is ’n paar weke later. Indien nie die (tweede) wedstryd teen Wallis nie, dan die een daarna, maar hopelik is dit Wallis.”

Australië, ’n tweemalige Wêreldbeker-kampioen, speel op 21 September teen Fidji in Sapporo, voordat hy agt dae later teen Wallis in Tokio te staan kom.

Kuridrani, ’n Fidjiaan van geboorte, en Petaia het nie in die Wallabies se laaste Wêreldbeker-opwarmingswedstryd teen Samoa gespeel nie.

Die Wallabies het daardie toets in Sydney Saterdag met 34-15 gewen.

Die veteraan Adam Ashley-Cooper het saam met Matt Toomua die senterkombinasie teen Samoa gevorm, maar Cheika sal waarskynlik vir James O’Connor en Samu Kerevi in sy middelveld teen Fidji inspan.

O’Connor en Kerevi het verlede maand in Perth, in die Wallabies se klinkende sege oor die All Blacks, gewys dat hulle ’n gedugte kombinasie is.

Die slot Adam Coleman, wat die eerste van ses drieë deur die Wallabies teen Samoa gedruk het, het ook nog nie voluit in Japan geoefen nie. Hy herstel van ’n besering aan sy duim, maar Cheika verwag dat hy fiks sal wees vir die stryd teen Fidji.

Op ’n vraag oor hoe die Wallabies die bedompigheid in Japan ondervind, het Cheika gesê hulle is gereed vir enige toestande.

“Dit maak nie saak nie. Sneeu, woestyn, aand, dag, dit maak nie saak nie,” het hy gesê.

“Die toestande is vir almal dieselfde.”

Die Wallabies behoort nie te veel te sukkel om te akklimatiseer nie, aangesien hulle vooraf ’n lang oefenkamp op die eiland Nieu-Kaledonië, waar dit net so bedompig is, gehad het. – Reuters

Meer oor:  Wallabies  |  Australië  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.