Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallabies sal keer moet ken teen Poemas

’n Australiese span wat desperaat is om momentum op te bou in die Rugbykampioenskap teen ’n Argentynse span wat hoop om sy eerste sege in 35 jaar Doer Onder te behaal.

Dís hoe die tafel gedek is vir Saterdag se kragmeting tussen die Wallabies en Poemas in Australië se Goudkus.

David Pocock sal Saterdag die Wallabies teen die Poemas lei in die afwesigheid van die beseerde Michael Hooper. Foto: Getty Images

Die Wallabies se sterte is vir die eerste keer in ’n lang ruk in die lug ná ’n sege oor die Springbokke in Brisbane – hul eerste oorwinning in die afgelope vyf wedstryde.

Australië het die Rugbykampioenskap afgeskop met twee loesings teen Nieu-Seeland.

Drie jaar gelede het ’n oorwinning oor die Bokke in Brisbane die Wallabies op koers gekry om die Wêreldbeker-eindstryd in Londen te haal.

Sedertdien het hul afrigter, Michael Cheika, baie aan sy span verander, maar met die Wêreldbeker-toernooi in Japan om die draai, is dit belangrik om te besluit op ’n 23-tal wat gereeld met die ander reuse van wêreldrugby kan meeding.

Cheika het ondanks die verandering aan sy personeel ’n paar sleutelspelers behou en verwelkom twee van hulle – die losvoorspeler David Pocock en buiteagterspeler Israel Folau – terug vir die wedstryd teen Argentinië in die Robina-stadion.

Cheika se leuse is om “altyd met iets anders vorendag te kom” en Dane Haylett-Petty bly daarom op heelagter, met Folau wat op vleuel na die span terugkeer. Folau het in sy laaste 61 toetse as heelagter opgedraf.

Terwyl die Wallabies met spelskeppers soos die losskakel Kurtley Beale en binnesenter Matt Toomua baie gevaarlik op die aanval sal wees, sal hulle veral goed moet verdedig om die toets te wen.

Argentinië is lank nie meer ’n span wat amper uitsluitlik op oorheersing voorlangs staatmaak om mededingend te wees nie.

Die Jaguares, wat amper uitsluitlik uit Argentynse toetsspelers bestaan, het vanjaar in die Superreeks twee van hul drie toerwedstryde in Australië gewen.

Mario Ledesma, ’n voormalige voorspelerafrigter van die Wallabies en die man wat die Jaguares vanjaar so hard laat brul het, staan nou aan die spits van die Poemas en daar heers ’n innerlike selfvertroue dat hulle teen die verwagting in kan wen.

Die telbord in verlede naweek se nederlaag van 46-24 teen Nieu-Seeland was nie ’n akkurate weerspieëling van die dinamiese rugby wat die Poemas gespeel het nie.

Hulle het ’n puik losskakel in Nicolas Sanchez en baie gevaarlike buiteagterspelers in Emiliano Boffelli, Bautista Delguy en Ramiro Moyano, wat die Wallabies kan laat bontstaan op verdediging.

* Michael Hooper, die Wallaby-kaptein en oopkantflank, moes hom weens ’n dyspierbesering aan die toets onttrek. David Pocock neem die kapteinskap by hom oor, met Pete Samu wat tot die beginspan bevorder word.

Spanne

Australië: Dane Haylett-Petty, Israel Folau, Reece Hodge, Matt Toomua, Marika Koroibete, Kurtley Beale, Will Genia, Pete Samu, David Pocock (k), Lukhan Tui, Izack Rodda, Rory Arnold, Allan Alaalatoa, Tatafu Polota-Nau, Scott Sio. PLAASVERVANGERS: Folau Faingaa, Sekope Kepu, Taniela Tupou, Adam Coleman, Ned Hannigan, Nick Phipps, Bernard Foley, Jack Maddocks.

Argentinië: Emiliano Boffelli, Bautista Delguy, Matias Moroni, Jeronimo de la Fuente, Ramiro Moyano, Nicolas Sanchez, Gonzalo Bertranou, Javier Ortega Desio, Marcos Kremer, Pablo Matera, Tomas Lavanini, Guido Petti, Santiago Medrano, Agustin Creevy (k), Nahuel Tetaz Chaparro. PLAASVERVANGERS: Julian Montoya, Santiago Garcia Botta, Juan Pablo Zeiss, Matias Alemanno, Juan Manuel Leguizamon, Martin Landajo, Bautista Ezcurra, Juan Cruz Mallia. – Reuters

  • Skeidsregter: John Lacey (Ierland).
  • Assistent-skeidsregters: Glen Jackson en Paul Williams (albei Nieu-Seeland).
  • TV-skeidsregter: Glenn Newman (Nieu-Seeland).
  • TV: 12:00 (SA tyd, SS 1).

Meer oor:  Argentinië  |  Rugbykampioenskap  |  Wallabies  |  Goudkus  |  Poemas  |  Australië
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.