Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oz staal hul vir gekweste All Blacks

Australië verwag ’n vurige en fisieke aanslag van die All Blacks in Saterdag se Bledisloebeker-rugbytoets op Eden Park in Auckland.

Dít nadat die Wallabies verlede naweek se kragmeting in Perth gemaklik met 47-26 gewen het. Sou hulle in Auckland wen, sal die Wallabies vir die eerste keer sedert 2002 die Bledisloebeker lig.

Niemand in die Wallaby-kamp het vandeesweek harder as David Pocock geoefen nie, maar is daar vir hom plek in die span vir Saterdag se toets teen die All Blacks op Auckland? Foto: Getty Images

Terwyl die All Blacks aan die ontvangkant was van ’n omstrede rooi kaart vir die slot Scott Barrett kort voor rustyd, kon die Wallabies baie selfvertroue put uit ’n oorwinning waarin hulle ses drieë aangeteken het. Dit was vir die Aussies ’n groot oomblik met die Wêreldbeker-toernooi in Japan om die draai.

Isi Naisarani, die Wallabies se groentjie-agtsteman, sê daardie wedstryd was die taaiste van sy drie tot dusver in ’n Wallaby-trui, maar hy verwag dat die All Blacks op Eden Park na ’n hoër rat sal oorskakel. Nieu-Seeland is laas in 1994 deur Frankryk op Eden Park geklop.

Australië het Nieu-Seeland in 1986 laas in Auckland geklop en het in onlangse jare groot nederlae daar gely. Vandeesweek gaan hulle egter die wedstryd binne met die All Blacks wat vir eens ’n seldsame krisis beleef.

Die tuisspan het ’n skielike tekort aan slotte weens Barrett se skorsing en Brodie Retallick se skouerbesering.

Jack Goodhue, wie se spelpeil op senter goed is, sal weens ’n dyspierbesering nie kan speel nie. Die All Blacks het egter goeie diepte in die middelveld.

Op hul beurt behoort die Wallabies in David Pocock ’n losvoorspeler van wêreldgehalte terug te kry nadat hy van ’n ernstige beenbesering herstel het.

Kurtley Beale, die Wallabies se heelagter, meen dit kan ’n goeie idee wees om te hou by die opdrafspan wat die grondslag vir die 47 punte teen die All Blacks gelê het, maar dis moeilik om ’n speler van Pocock se gehalte buite rekening te laat.

“Hy (Pocock) was die ou wat die meeste energie in ons oefensessie getoon het. Die insluiting van iemand van sy kaliber en ervaring sal baie welkom wees,” sê Beale.

Die gewese All Black-slot Ian Jones het intussen in ’n onderhoud met Radio Sport in Nieu-Seeland gesê die All Blacks moet Saterdag vir die Aussies wys wie’s baas en kan dit doen deur hulle fisiek te karnuffel.

“Ons moet hulle wys hoe lyk ware All Black-rugby en hulle goed opdons. Ek glo hulle (die Wallabies) kan dieselfde spel van hoë gehalte as verlede week opdis, maar as jy hulle fisiek oorheers, sal dit hul aanvallende spel aan bande lê,” het Jones gesê.

– Reuters

Meer oor:  Toetsrugby  |  Wallabies  |  All Blacks  |  Bledisloebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.