Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wallaby White se glas nog halfvol
Die Wallaby-skrumskakel Nic White laat loop die bal voordat die Bok-haker Bongi Mbonambi hom in besit kan betrap in die afgelope naweek se Rugbykampioenskapstoets op Ellispark. Foto: Gallo Images

Hoewel Australië slegs vier van sy laaste 16 toetse kon wen en hy boonop die afgelope naweek ’n nederlaag teen ’n eksperimentele Springbok-span gely het, is daar nog nie rede om paniekerig te raak nie.

So het die Wallaby-skrumskakel Nic White gesê nadat Suid-Afrika hulle met 35-17 in die eerste Rugbykampioenskapstoets van die jaar op Ellispark getroef het.

Trouens, hy glo die meeste van die Aussies se gebreke kan binne ’n week aangepak word.

Vir Australiese ondersteuners sal dié uitspraak dalk ’n bietjie dik vir ’n daalder wees gegewe die span se gesukkel die afgelope 18 maande en die feit dat ’n Bok-span sonder eerstekeuse-sterre soos Malcolm Marx, Handré Pollard en Duane Vermeulen hulle in Johannesburg verslaan het.

Met slegs twee maande oor voordat die Wêreldbeker-toernooi in Japan begin, is daar toenemend druk op Michael Cheika (Wallaby-afrigter).

Met slegs twee maande oor voordat die Wêreldbeker-toernooi in Japan begin, is daar toenemend druk op Michael Cheika (Wallaby-afrigter) en nog ’n sukkelvertoning, Saterdag teen Argentinië in Brisbane, kan eenvoudig nie bekostig word nie.

White, wat op Ellispark in sy eerste toets in vier jaar gespeel het, het egter ’n meer optimistiese beskouing as die meeste waarnemers.

“Dit was hier en daar dalk ’n lomp vertoning, maar ons voel dat ons nie ver weg is van waar ons wil wees nie. Ons probeer dinge vanjaar ’n bietjie anders doen as in die verlede en derhalwe sal daar ’n paar groeipyne wees. Toe ons in die eerste helfte geduldiger was, het ons heelwat kanse geskep,” het White verduidelik.

“As ons ’n paar van daardie geleenthede benut het, kon die wedstryd heel anders uitgedraai het, so daar’s geen rede om paniekerig te raak nie.

“Ons moet aan ’n paar dinge werk en seker maak ons is meer klinies. Ek glo dis iets wat ons in ’n week kan omkeer,” het White gesê.

Pablo Matera, kaptein en flank van die Argentynse Poemas, toets die verdediging van die All Black-senter Ngani Laumape. Matera is een van talle “atletiese, gespierde” spelers in Argentinie se span. Foto: Getty Images

Die Wallabies sal egter lugtig wees vir die bedreiging wat die Poemas inhou. Die Suid-Amerikaners het hulle immers verlede jaar in die Goudkus geklop, terwyl die Jaguares (Argentinië se Superrugby-span) die afgelope twee seisoene ook uiters suksesvol in wedstryde op Australiese bodem was.

Trouens, die Jaguares het sedert 2018 vier oorwinnings op ’n streep in Australië behaal.

White gee toe die Suid-Amerikaners sal strawwe teenstand bied. “Hul spelers is atleties en gespierd . . . ons gaan ons hande vol hê.”

* Die Bokke se bonuspunt-oorwinning het nie aanleiding gegee tot ’n hoër plek op die jongste wêreldranglys nie en hulle beklee steeds die vyfde plek. Suid-Afrika (85.30) kruip egter al hoe nader aan Engeland (86.27) in die vierde plek.

Australië (81.68) het ondanks sy nederlaag sy sesde plek behou, maar is nie ver voor Skotland (80.17) in die sewende plek nie.

Nieu-Seeland (92.54) se posisie bo-aan die ranglys het onveranderd gebly, terwyl Argentinië (tiende, 77.05) ’n gulde geleentheid teen die All Blacks verbrou het om met ’n oorwinning veld te wen op die ranglys. – Reuters, Sportredaksie

Meer oor:  Brisbane  |  Australie  |  Skrumskakel  |  Rugbykampioenskap  |  Wallabies  |  Poemas  |  Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.