
Alun Wyn Jones speel Saterdag sy 148ste rugbytoets wanneer hy Wallis teen Frankryk lei. Foto: Getty Images
Alun Wyn Jones, kaptein van Wallis se rugbyspan, gaan Saterdag gelyk wees met die voormalige All Black-flank Richie McCaw as die speler wat die meeste toetse nog gespeel het.
Jones (35) speel in die wedstryd teen Frankryk in Parys in sy 148ste toets. Die getal sluit die nege in wat hy vir die Britse en Ierse Leeus gespeel het.
Wayne Pivac, afrigter van Wallis, het dit Donderdag in ’n verklaring as ’n “uitsonderlike prestasie” geloof.
“Hy is die verpersoonliking van ’n besonder goeie rugbyspeler, ’n baie professionele mens op en van die veld, en ’n gentleman,” sê Pivac.
“Op die veld lei hy deur sy voorbeeld. Jy kan nie vir meer van ’n kaptein vra nie. Ons is baie bevoorreg om hom te hê.”
• Wallis: Leigh Halfpenny, George North, Jonathan Davies, Nick Tompkins, Josh Adams, Dan Biggar, Rhys Webb, Taulupe Faletau, Justin Tipuric, Aaron Wainwright, Alun Wyn Jones (k), Cory Hill, Samson Lee, Ryan Elias, Rhys Carre. PLAASVERVANGERS: Sam Parry, Nicky Smith, Dillon Lewis, Seb Davies, James Davies, Gareth Davies, Rhys Patchell, Louis Rees-Zammit.